HENALI KUIT
“Wat gebeur met ’n uitgestelde droom?” vra oudpres. Thabo Mbeki in ‘n parlementsitting in 1998. Politieke joernalis en skrywer, Mark Gevisser, verduidelik in sy biografie oor Mbeki, The Dream Deferred, dat die voormalige president hier gepraat het van post-1994 drome wat slegs bespreek word, maar net uitgestel word en uitgestel word. Met dié dat ons grondwet gereeld as die beste ter wêreld bestempel word – terwyl die misdaadsyfers óók die hoogste range in die statistieke beklee – het ons ‘n skreiende voorbeeld van ‘n droom vir die Suid-Afrikaanse regstels wat, volgens Gevisser “uitdroog soos ’n rosyntjie in die son,” en dan “sweer en etter soos ‘n seerplek”. Gevisser sê verder: “Aan die einde van die dag is ons almal visse in die rivier van die geskiedenis … [H]oe is dit denkbaar dat ons die strome wat ons so vinnig na die toekoms toe dra, kan ken en bepaal? Daar is net een antwoord: kyk na die ander visse.” Perdeby vis dié week uit wat Tukkies se opinie oor die vloei en gety van Suid-Afrika se regstelsel is.
Mmathabo Aphane, ‘n derdejaar wat politieke wetenskap studeer, is van mening dat Suid-Afrikaanse wetgewing nie noodwendig problematies is nie, maar dat die implementering daarvan die oorsaak is van die negatiewe beeld wat ons soms van ons howe het. “Die howe is geneig om op onbenullighede te fokus,” sê sy. “Dis meer waarskynlik dat ’n ou wat sê nou maar vir ’n jaar dagga gerook het, vervolg gaan word, terwyl dit minder waarskynlik is dat ’n ou wat byvoorbeeld oor die R100 miljoen deur korrupsie gesteel het, in die moeilikheid sal kom.” Ané Steenkamp, ‘n tweedejaar BA Sielkunde-student, stem saam: “Vat byvoorbeeld vir Schabir Shaik,” wys sy uit. “Iewers is daar ‘n groot probleem.”
Prof. Bernard Bekink van die Universiteit van Pretoria, ’n spesialis in publieke wetgewing, verduidelik dat hierdie probleem weens die allemintige werklading (as ‘n gevolg van die hoë misdaadsyfers) is. Prof. Bekink sê ook dat die huidige hofpersoneel nie noodwendig bekwaam is vir hul taak nie. “Sonder onafhanklike, onpartydige en bekwame hofpersoneel wat deur die politieke leiers van ons staat gerespekteer word, is ons land se jong demokrasie in groot gevaar.”
Steenkamp meen ook dat die regsgeleerdes nie altyd regverdigheid op die hart dra nie. “Die tronke is vol en die kerke is leeg en as die regsisteem nie van binne af uitgesorteer kan word nie, gaan dit so bly.” Sy meen dat korrupte hofbeamptes die hele regstelsel versuur. Carien Smith, ’n derdejaar BA Joernalistiek-student, meen ook dat beamptes wat omkoopgeld aanvaar, ’n doring in die vlees is: “Hoe maklik is dit nie vir skuldige mense om skotvry af te kom nie?”
Smith wys egter ook die positiewe uit: “Ons wetgewing is puik en ek dink ons grondwet is definitief onder die bestes in die wêreld.” Maar, soos die uitgestelde droom in “What happens to a dream deferred”, die bekende gedig deur Langston Hughes, waaruit Mbeki en Gevisser aanhaal, “het die sisteem stagnant geraak” in Smith se woorde. “Dit stink soos vrot vleis,” waarsku die gedig , voordat dit “ontplof”.