CHARLOTTE KEURIS

Tuks bied ‘n groot verskeidenheid sportsoorte aan en daar is iets vir elke student. Perdeby hoop dat hierdie inligting studente wat daarna uitsien om van die sportfasiliteite by die universiteit gebruik te maak, sal help. Die universiteit het ook talle sportakademies waarby studente kan aansluit.

Een so ‘n akademie is die Tuks-swemakademie. Swem is ‘n prioriteitsport by die universiteit omdat dit ‘n suksesvolle program aanbied.

Die Tuks-atletiekakademie se missie is om ateliek in Suid-Afrika te bevorder en meer medaljes by die Olimpiese Spele te verower. Die akademie wil talentvolle atlete help deur vir hulle geleenthede te gee om hulle sportsoort te beoefen.

Daar is ook ‘n krieketakademie wat ‘n verskeidenheid programme aanbied. Alle programme is uniek aan die universiteit en maak van uitstekende afrigters en toerusting van ‘n hoë gehalte gebruik.

Die universiteit het ook ‘n sokkerakademie. Die akademie het al baie goeie spelers opgelewer en het tans vier spelers wat vir Chelsea en een wat vir Bolton speel. Die programme by die sokkerakademie is oop vir spelers 11 jaar of ouer. Die akademie is ook seker dat hulle aan die Bafana Bafana-sokkerspan vir die 2010 Fifa Wêreldbeker later in die jaar sal kan bydra.

Die Tuks-gholfakademie is in 2006 gestig toe die universiteit besluit het om gholf ‘n prioriteitsport te maak. Die akademie ontvang tans ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Gholfvereniging asook van die PGA van Suid-Afrika.

Nog ‘n sportakademie wat baie bereik, is die Tuks-gimnastiekakademie. Die akademie word as een van die bestes in die land gesien en het spesiale oefenprogramme om die beste uit die gimnaste te haal.

Tuks se tennisakademie bied ‘n voltydse program aan wat op oefening en opvoeding fokus. Die spelers woon op die sportkampus na aan al die fasiliteite. Daar is ook ‘n program vir tieners tussen die ouderdom van 12 en 17 jaar wat van plan is om eendag professionele tennissspelers te word.

Tuks het ook ‘n muurbalakademie wat alle spelers met ’n verskeidenheid programme tevrede sal hou.

Behalwe vir al die akademies wat beskikbaar is, is daar ook sportsoorte waaraan studente as buitemuurse aktiwiteite kan deelneem, onder andere aikido, pluimbal, korfbal, skaak, fietsry, dans, tweekamp, exporatio, skerm, sokker, gholf, gimnastiek, hokkie, netbal, judo, karate, rugby, roeisport, tafeltennis, tae kwondo, vlugbal, onderwaterhokkie, waterpolo en stoei.

Website | view posts