Sport in kort …

by PDBY Staff | Oct 20, 2009 | Sports

SUEGNE KILIAN 

Tukkies se naam is weereens deur die puik prestasies van sy atlete hoog gehou. Teaghan Gauche, ‘n lid van die Tuks junior gholfakademie, het Noord-Gauteng by ‘n onlangse interprovinsiale hoërskoolbyeenkoms in Potchefstroom verteenwoordig. Gauche het met ‘n goue medalje van die baan afgestap nadat hy sy naaste teenstander met drie punte ore aangesit het. Noord-Gauteng het ook die toernooi met 61 punte gewen. 

Makqosi Peloakgosi, ‘n lid van Tuks se muurbalklub, domineer steeds in die o/13-kategorie. Makqosi het gedurende die juniortoer in 2009 amper al die titels verwerf en het haar posisie as koningin van Suid-Afrikaanse laerskoolmuurbal bevestig. Sy het die eerste naweek van Oktober nog ‘n trofee by haar versameling gevoeg toe sy in die Boland Junior Ope gaan deelneem het. Sy sal gedurende Desember in Australië aan haar eerste dubbelstoernooi deelneem.

TuksRugby word sterk verteenwoordig op die SA universiteite-sewesspan wat gedurende die eerste week van November in Singapore gaan naam maak. Hulle sal deur Tuks I se hoofafrigter, Freddie Grobler, afgerig word.  Die logistiek van die studentespan sal deur die bestuurder van  Tuks I, Jannie Robbertse, hanteer word. Shaun du Toit sal vir die voorbereiding van die span verantwoordelik wees. Daar is ‘n totaal van vyf Tukkies in die studentespan, naamlik Shaun Davids, Gerhard van der Merwe, Ockie Kruger, Branco du Preez en Deon Helberg. Wees gerus maar op die uitkyk vir hierdie name.

 

Website | view posts