Op ʼn sonnige dag in die hoofstad van Suid-Afrika is dit moeilik om te glo dat daar ‘n donker kant aan Pretoria is. ʼn “Ander kant” – ʼn bonatuurlike kant.
MARIÉ VAN WYK
Op ʼn sonnige dag in die hoofstad van Suid-Afrika is dit moeilik om te glo dat daar ‘n donker kant aan Pretoria is. ʼn “Ander kant” – ʼn bonatuurlike kant.
Die meeste mense in Pretoria weet van die Erasmus-kasteel, maar sy alombekende naam is Die Spookhuis. Die huis is in 1903 voltooi en geïnspireer deur die oorspronklike eienaars Jochemus en Johanna Erasmus. Die huis is ontwerp deur ʼn Nederlandse argitek, Van der Benn, en gebou deur ʼn Italianer met die naam Monte Bello, wat die meeste van die materiale daarvoor ingevoer het. Die Erasmus-gesin was bekend vir hul flambojante leefstyl aan die einde van die 19de eeu en het gereeld hul huis vir uitspattige partytjies en konserte oopgemaak. In die Groot Depressie het die Erasmus gesin se geldsake verander en hulle het gesukkel om die huis instand te hou. Die huis is in hierdie grieselige toestand gebruik in die 1950’s fliek Hier’s Ons Weer. Later het Krygkor die huis gekoop en dit gerestoureer, en die huis kan in hierdie toestand in die Parletones se musiekvideo, “Push me to the Floor” gesien word.
Selfs al is die huis gerestoureer is daar gerugte dat die oorpronklike eienaars nog steeds daar woon – in spookagtige gewaad. Maar hierdie is nie die enigste spoke wat hulself in die hoofstad kom tuis maak het nie.
Die Breytenbach-teater het ʼn lang geskiedenis gehad voor dit in 1958 hul eerste verhoogproduksie verwelkom het. Dit het begin as ‘n Duitse klub en is toe deur Emily Hobhouse oorgeneem om ʼn handwerkskool te begin. Daarna is daar ʼn tydelike hospitaal in die huis gestig om al die mense wat deur die griepepidemie van 1918 aangeval is, te help. Die kamer onder die verhoog is in daardie tydperk gebruik om die lyke van die mense wat as gevolg van die griep omgekom het in te bêre. Die lyk van ʼn verpleegster met die naam Heather was ook hier gestoor en sy kan vandag glo nog van tyd tot tyd daar gesien word. Volgens gerugte was sy die verpleegster wat na die siek kinders omgesien het, tot sy self van die siekte opgedoen het en daarvan gesterf het. Sy is al lankal van diens af, maar sy het nog nooit haar pos verlaat nie.
Die hartseerste spook in Pretoria is blykbaar ʼn man wat in ʼn huis in Silverton woon. Niemand weet wie hierdie man is of waar hy vandaan kom nie. Hy is geneig om in die aand met ʼn bloedrooi baadjie, in sy gunstelingstoel te gaan sit en koerant lees.
Die Turffontein-huis is bekend omdat dit die huis van Daisy de Melker was. In die 1920’s was De Melker die eerste reeksmoordenaar wat vervolg is in Suid-Afrika en is in 1932 gehang. De Melker het twee van haar mans en ʼn seun doodgemaak deur om hulle te vergiftig met óf arseniet, óf strignine, vermoedelik vir hul geld. Vandag word De Melker nog steeds in haar Clubstraat- huis gesien, waar sy die gordyn van die boonste verdieping stadig wegtrek met haar spookagtige hand en deur die venster loer. Daar word vermoed dat sy vir haar man wag om huis toe te kom.
Die Victoria Hotel in Pretoria is in 1880 gebou. Die hotel het verskeie gaste gesien deur die jare en gerugte wil dit hê dat hulle net soveel spoke gesien het. Blykbaar is die trappe in die hotel nie die plek om te wees na tien in die aand nie. ʼn Grys ou dame is geneig om hierdie tyd verby jou te skuur. Soos sy verdwyn, sê mense hulle sien ʼn kers flikker. Alfie is ʼn ander bekende spook wat permanente woning opgeneem het in die Victoria Hotel. Alfie is geneig om die krane in die badkamers oop te draai en die oomblik wat jy wil bad, draai hy dit weer toe. Hy het ook ʼn reputasie om chaos in die kombuis te veroorsaak.
Hier is net ʼn paar van die spoke wat jy in die Jakarandastad kan teë kom, as jy meer van hulle wil ontmoet kan jy op een van Pretoria se spooktoere gaan. Vir om en by R300 kan jy by Computicket ʼn kaartjie koop wat jou vir ʼn aand op ʼn bus van een plek waar dit spook na die volgende neem. Die Erasmus kasteel, die Breytenbach-teater en die Victoria Hotel, asook die Pretoria Treinstasie, Kerkplein, Die Raadsaal en vele ander plekke word op die toer besoek.
Op ʼn dynserige maanskynaand, in die hoofstad van Suid-Afrika, mag jy net miskien die “ander kant” van Pretoria teëkom.
Foto: Hanro Spangenberg