Spinnerakke en mantels: die superhelde is terug

by PDBY Staff | May 25, 2011 | Entertainment

ANDRI NEL

Stywe lycra pakkies, super-menslike kragte en `n dodelike geheim wat sy einde kan beteken. Nee, dit is nie Usain Bolt met `n geskeurde liesspier nie. Dit is daardie geheime plesier wat ouens en meisies terselfde tyd na die teaters lok. Superhelde is nie meer net vir die outjie met die dik raam brille in die strokiesboek-afdeling van Exclusive Books nie, en as dit kom by Superman en Spiderman is daar geen twyfel dat superhelde ons antwoord is op die goed wat die sleg oorwin nie.

Met die toeloop van nuwe superheld films wat ons silwerdoeke binne die volgende jaar tref is die vraag op baie se lippe, “Waarom alweer Superman en Spiderman?”

Albei hierdie superhelde gaan binne die volgende twee jaar `n herlewings transformasie ondergaan met The Amazing Spiderman wat geskeduleer is om in Julie 2012 te begin draai en Superman: The Man of Steel wat in Desember 2012 weer sy verskyning maak. Dit mag jou so bietjie met `n gevoel van déjà vu los. Het daar dan nie net so paar jaar terug beide Superman en Spiderman films uitgekom nie, en het beide nie so goed gevaar in die kritici en aanhangers se oë nie? Maar volgens kritici en die opgewonde gebabbel op film webtuistes, mag dié dalk net die keurpunt wees wat hierdie twee film reekse nodig het.

Die titels van die nuwe weergawes gee al klaar `n meer klassieke klank aan die films en met twee Britse akteurs wat hierdie gewilde Amerikaanse superhelde vertolk, mag ons dalk net in wees vir `n nuwe manier van die toekoms en die aarde red. The Social Network se Andrew Garfield sal die rol van Spiderman vertolk en The Tudors ster Henry Cavill sal in die rooi en blou Superman pakkie te siene wees. Alhoewel daar `n paar tonge klap oor die feit dat hierdie Amerikaanse superhelde deur Britse akteurs vertolk word, word daar net goeie dinge van die regisseurs se kant af gesê. “Garfield het die perfekte kombinasie van intelligensie, vernuf en menslikheid,” sê regiseur Marc Webb op die webtuiste Deadline.com.

The Amazing Spiderman sal meer van `n terugblik op die lewe van Spiderman se alter-ego Peter Parker wees, en hou glad nie verband met die vorige drie films waarin Toby Maguire die hoofrol speel nie. Die laat-jou-lê-soos-jy-lag ster Emma Stone sal die superheld se liefdesbelangstelling speel, maar nie as die rooikop Mary Jane Watson nie – eerder, tot baie aanhangers van die strokiesprente se blydskap, as die blonde Gwen Stacy. Vir die van ons wat nie die kleurvolle strokiesprent blaaie van voor tot agter ken nie: Gwen Stacy was Spiderman se heel eerste liefde, en baie aanhangers meen sy ware liefde, maar sterf `n tragiese dood waarna Spiderman en Mary Jane vertroosting in mekaar se arms vind. Hierdie is `n baie interessante kinkel in die storie en sal vir beide geharde Spiderman aanhangers en die wat hoop vir iets anders, iets gee om na uit te sien.

Die suksesvolle regisseur van die nuwe Batman reeks, Christopher Nolan, sal as vervaardiger intree op Superman: Man of Steel. Hy word daarvoor geakkrediteer dat hy die Batman reeks nuwe lewe gegee het. Nou is die vraag: kan hy dieselfde doen met die man van staal? Die storielyn is nog nie bekend gemaak nie, maar een ding is verseker – dit gaan iets vir die oog met Cavill in die hoofrol wees. Hierdie koninklike ster staan al bekend as die ongelukkigste akteur in Hollywood. Natuurlik het hy sy merk as die aantreklike Charles Brandon gemaak in die gewilde The Tudors reeks, maar hy het ook al vele kere uitgemis daarop om in die superskoene van `n superheld in te tree. Nie net het hy die rol van Superman/Clark Kent afgestaan aan Brendon Routh in die 2007 se onsuksesvolle weergawe van Superman, Superman Returns nie, maar hy het ook tweede in die tou gestaan toe dit by die rol van Batman kom, wat aan Christian Bale gegaan het.

Ten spyte van die kritiek oor Britse akteurs wat die hoofrolle vertolk en die feit dat sommiges voel dat dit te vroeg is om alweer `n nuwe Superman en Spiderman film uit te bring, is daar ook baie opgewondenheid. Dalk is dit die keurpunt in die dip waardeur beide hierdie superhelde se film loopbaan gaan, en dalk is die toetrede van so biedjie nuwe, Engelse bloed net wat die gemaskerde manne nodig het. Dit was die vars vertolking van die Walliese akteur Christian Bale as Batman wat dié reeks een van die suksesvolste ter wêreld gemaak het. Nou is dit Garfield en Cavill se kanse om te wys dat die aarde steeds deur `n paar baie aantreklike bleeksiele gered kan word. Die afwagting is groot, maar ons kan net hoop dat hierdie twee films se klassieke titels oorgedra sal word na `n klassieke herlewing van die web-skietende Spidey en die manteldraende Superman.

Beeld: JP Nathrass

Website | view posts