MEGAN SCHOEMAN
‘n Oorvloed van turkoois hemde het Saterdag, 22 Augustus, op LC vir die vierde Spar Women’s Challenge-wedloop neergesak.
Mans is ook toegelaat om deel te neem mits hulle soos vrouens aangetrek het. Ma’s, susters en vriendinne moes grimering, pruike, oorbelle, toppies, rompe en visnetsykouse aan die gretige mans leen.
Tussen al die pret was daar egter ook vroue-atlete wat die 10km-wedloop ernstig opgeneem het.
René Kalmer, geborg deur Mr Price, het met ‘n tyd van 34 minute en 41 sekondes gewen. Sy sê sy het die vrouewedloop geniet omdat daar nie mans was wat haar omgehardloop het nie.
Die identiese tweeling, Lebo en Lebogang Phalula, van die Universiteit van Johannesburg, het onderskeidelik die tweede en derde plek ingeneem.