Soos niks wat jy al voorheen gehoor het nie …

by PDBY Staff | Apr 20, 2011 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

Die Suid-Afrikaanse musiektoneel – glorieryk, notories en uniek. Vergeet egter van die groot name in Suid-Afrikaanse musiek, soos jou Fokofpolisiekarre, jou Heuwels Fantasties en selfs Parlotones. Vandeesweek delf Perdeby dieper in die plaaslike musiektoneel, deur al die kommersiële musiek en platemaatskappye, om aan jou `n paar geonderskatte musiekgroepe in Suid-Afrika te bied.

Newtown

Wie? Newtown is nie soos enige iets wat Suid-Afrika in `n ruk gesien het nie. Kombineer `n bietjie kulturele diversiteit, `n bietjie Johannesburgse geur en net `n titseltjie Florence + The Machine. Dan het jy die ideale resep vir hierdie sesstuk alternatiewe groep.

Okay … ? Dit mag dalk nie so indrukwekkend klink nie, maar Newtown is `n blink voorbeeld van wat Suid-Afrikaners musikaal kan bereik as hulle saamspan. Die groep bestempel hul musiek as “Jozi Soul”, wat losweg deur die groep beskryf word as alternatiewe soul musiek. Dis maar die beste om net na een van hulle optredes toe te gaan en dit eerstehands te ervaar.

Hmmm. Mens sou dink dat `n Suid-Afrikaanse soul groep `n baie spesifieke tipe musiek sal speel. Weereens tree Newtown in om daardie stereotipe by die venster uit te gooi. Newtown is geken om hulle eie weergawe van Florence + The Machine se “Dog Days Are Over” te speel, wat bewys dat hierdie groep nie bereid is om net by een spesifieke genre te hou nie.

SpazaShop Boyz

Wie? SpazaShop Boyz is `n tweestuk hiphop groep uit Johannesburg. Die groep het al een EP vrygestel en werk tans aan hulle eerste vollengte album.

Okay … ? SpazaShop Boyz het al saam menigte Suid-Afrikaanse hiphop kunstenaars gewerk, soos Zuluboy, Jonny Maboneng en Charlie Macc. Die groep is goed bekend in plaaslike hiphop sirkels as dié op en komende hiphop groep van die nuwe generasie.

Hmmm. Die groep is geken vir die manier hoe hulle van genre tot genre wissel en hoe hul verskillende genres meng in een groot kakofonie van klanke. Die tipe musiek wat die groep maak behels alles van drum en bass, tot blues rock en hip hop.

We Shall Embrace

Wie? Nog `n musiekgroep met `n vroulike vokalis is We Shall Embrace – `n vyfstuk alternatiewe metal groep uit Johannesburg. Die groep se klank is vergelykbaar met die van Flyleaf, Eyes Set To Kill en in `n mate Evanesance.

Okay … ? As jy al ooit blootgestel was aan die samesmelting van vroulike sangmusiek en manlike skreemusiek, dan sal jy weet – dit kan of goed werk of dit kan totaal en al faal. In die geval van We Shall Embrace, werk dit baie goed met die dat die meisie die refreine sing en die man `n paar lyne agterna skree.

Hmmm. We Shall Embrace het al by Woodstock, Thornfest en Fracture Fest gespeel en het al die verhoog gedeel met twee internasionale groepe, Underoath en Haste The Day, op hulle toere in Suid-Afrika. Die groep het onlangs hulle eerste vollengte album, A Place Called Here And Now, opgeneem. `n Paar van die liedjies is alreeds te hoor op TuksFM.

Website | view posts