Sonop en Klaradyn wen stoot-stoot

by PDBY Staff | Aug 13, 2009 | Uncategorized

ELAINE SWANEPOEL

Dit was weer bloed en sweet by vanjaar se kaskarwedren wat Saterdag, 25 Julie, by die NG Kerk Universiteitsoord plaasgevind het. Tuks se koshuise het weer onder mekaar gespook vir die Kaskarbeker, terwyl toeskouers aan die pannekoek, worsbroodjies en ander eetgoed wat deur die kerk verkoop is, gesmul het.

Volgens Paul Grobler, NG-dominee en organiseerder van die kaskarwedren, is hierdie die 16de jaar wat die kerk hierdie geleentheid aanbied, en word dit grootliks aangebied om geld in te samel om die Evangelie aan studente te verkondig.

Met die eerste tydtoets om 11:30 het dit gelyk asof verlede jaar se kampioene, Sonop en Klaradyn, vir nóg ‘n oorwinning regmaak, maar ná die eerste rondte het dinge nie so goed vir Klaradyn gelyk nie. Klaradyn het aanvanklik ? voorsprong gehad, maar Erika het hulle gou ingehaal en Klaradyn het verder na derde plek afgeskuif, met Erika en Magrietjie in onderskeidelik, eerste en tweede plek.

Tydens die tweede rondte het Klaradyn egter gewys dat hulle nie so maklik gaan lê nie. Hulle het Erika verby gesteek toe dié twee strafpunte kry en het toe ook die wedloop gewen. Sonop het weereens skoonskip gemaak tydens beide rondtes en het dan ook as algehele wenner van die mans uit die stryd getree.

Klaradyn was natuurlik, vir die derde jaar in ‘n ry, wenner van die dameskoshuise. Beide Sonop en Klaradyn het ook die prys gewen vir beste deelname. Taaibos en Madelief was algeheel tweede. Madelief het ook die meeste geld ingesamel. Die dag het egter nie sonder teëspoed verloop nie.

Twee Sonopmanne het lelik in die stof gebyt en een het sommer bo-oor ‘n kaskar gevlieg. ‘n Lid van die Curlitziaspan se been is deur ‘n ander kar oopgekloof en ‘n Vividusman moes inderhaas weens dehidrasie weggedra word.

Maar ten spyte van die ongelukke en ? paar blou kolle, het almal hulself gate uit geniet, en ons kan nie wag om te sien of Klaradyn en Sonop volgende jaar weer die mas gaan opkom nie.

Website | view posts