Sokkerdag bring vreugde aan kinders  

by PDBY Staff | Oct 20, 2009 | News

SUEGNE KILLIAN

Op Saterdag 10 Oktober het vyf derdejaar-studente van Tukkies die kinders van twee kinderhuise in Pretoria gewys dat die wêreld tóg omgee. Die studente het ’n sportdag vir die kinders gereël. Dit was ‘n projek vir ‘n praktiese taak wat hulle in hul vak Projektebestuur moes aanpak.

Charles Kgosana, Penelope Motswene, Soleil Schreuder, Bridgette Motsepe en Onaletha Mokgathi het die sokkerdag in Augustus begin reël. Die doel van die dag was om vir die kinders te wys dat mense hulle lief het en vir hulle omgee en om ‘n goeie herinnering by hul kinderjare te voeg.

Die studente het die hele dag self georganiseer en beplan. Hulle moes elk ’n duisend rand insamel vir die pretdag. Hul dosent, me. Heide Coetzee, het die dag as ’n groot sukses beskryf. Sy is baie beïndruk met wat dié leerders alles in so ’n kort tydjie kon uitrig. “With responsibility comes authority,” het sy aan die studente gesê, waarna sy hulle gegroet het sodat hulle aan die werk kon spring. 

Die pretdag het ook ondersteuning van buite ontvang. Pick ’n Pay het ’n koopbewys geskenk waarmee hulle vir die kinders heerlike worsbroodjies en koeldrank kon voorsien en Assupol Life het vir die twee spanne uniforms vir die groot dag verskaf. Ongeveer 70 kinders het die byeenkoms bygewoon. Die dag het bestaan uit ’n sokkerwedstryd tussen die twee kinderhuise, Bramley Kinderhuis en Itumeleng Shelter For Boys, gevolg deur verversings. Daarna het die kinders hulself vermaak deur die mure van die sokkerbaan te verf en te versier. 

Die sokkerspelers se ouderdomme het tussen sewe en 18 gewissel. Slegs een meisie, Charlotte (13), het aan een van die wedstryde deelgeneem.

Itumeleng het as wenners uit die stryd getree. Cheerleaders het die spanne vanaf die kantlyn aangespoor en elke span het hulle eie baniere gemaak. 

Aan die einde van die dag was die kinders dit eens: hulle het hulself gate uit geniet. Motswene glo die dag was ’n groot sukses en dat hulle span graag in die toekoms nog sulke vreugdevolle geleenthede sal wil skep.

Website | view posts