Soccer City nie meer?

by PDBY Staff | Aug 2, 2010 | Sports

CHRISTIAAN BLIGNAUT

Wembley, Stadium Australia, Stade de France en nou ook Soccer City. Na ‘n suksesvolle FIFA Sokker Wêreldbeker word Soccer City, die reuse Afrikapot, se naam nou saam met die bekendste stadions ter wêreld genoem. Dit is hier waar beide die openingswedstryd en die onvergeetlike eindstryd gehou is. Met uitstekende fasiliteite en ‘n kapasiteit van     88 460 mense is hierdie R3,4 biljoen struktuur elke Suid-Afrikaner se trots.

Die sokkergees het egter skaars afgeneem voor die stryd om Soccer City se naamsverandering begin het. Stadionbestuur Suid-Afrika het dit bekend gemaak dat die stadion voorts die Nasionale Stadion sal heet. Hierdie besluit is geneem sodat dit nie net bekend sal wees as die tuiste van Suid-Afrikaanse sokker nie, maar ook ander sportsoorte. Dit het reeds aan die lig gekom dat die Drienasies Rugbytoets tussen die Springbokke en die All Blacks op 21 Augustus daar aangebied sal word. Eerste Nasionale Bank, wat glo naamregte tot die stadion het, skop egter hierteen teë en sê dat die naam weer FNB Stadion sal wees, soos voor die Wêreldbeker.

Die stadion het reeds ‘n geskiedenis ryk aan onvergeetlike gebeurtenisse waaronder Nelson

Mandela se eerste toesprake, die 1996 Afrika-nasiesbeker en die 2010 Sokker Wêreldbeker tel. Daar mag dalk nou ‘n stryd rondom die naam van hierdie ongelooflike struktuur ontwikkel, maar dit sal altyd onthou word vir die gebeurtenisse wat daar afgespeel het. Vir duisende sokkerondersteuners wêreldwyd sal dit altyd Sokker City bly.

Moet Soccer City se naam verander? Tuks-studente lug hul opinie:

Tiaan Visser, BSc Biologiese Wetenskappe: “Ek sal sê dit moet so bly, want dit het oornag ‘n wêreldbekende sokkerstadion geword en dit is vernoem na die Sokker Wêreldbeker.”

Ann-Marie Lategan, BSc Biologiese Wetenskappe: “Wel, ek dink nie dit kan Soccer City bly nie, want nie net sokker gaan daar gejol word nie en ek wil ook nie hê dit moet ‘n bank se naam hê nie, so seker maar National Stadium!”

Hanneke Potgieter, BSc Mensfisiologie en Genetika: “Ek hou baie van die naam Soccer City, dit herinner aan die Wêreldbeker.”

Dirk van Velden, BCom Regte: “Soccer City is die beste naam.  Dit klink cool.”

Stephan Maré, Bedryfsingenieurswese: “Nasionale Stadion is nie ‘n slegte naam nie, dit kan maar gebeur.”

Website | view posts