Snaaks, snaakser, Ellen Degeneres

by PDBY Staff | Feb 27, 2012 | Entertainment

MAGDALEEN SNYMAN

Aanhangers van Ellen Degeneres, beroemde komediant, TV-persoonlikheid en Emmy-wenner, het rede om breed te glimlag. Haar derde boek, Seriously… I’m kidding, het aan die einde van 2011 verskyn.

Degeneres skryf in `n gemaklike en vloeiende styl, wat die boek perfek maak vir studente wat aan die einde van `n lang dag moeg is om akademiese taal te ontsyfer. Dit voel asof `n goeie vriendin, eerder as `n bekende, haar gedagtes met jou deel.

Die staaltjies is glad nie pretensieus nie en Degeneres spot graag met haarself. Met hoofstukke soos “How to be a supermodel”, wat jou leer om te loop soos `n perd wat waterplassies vermy en “The Secret of Life”, `n hoofstuk wat uit `n enkele woord bestaan, is dié boek ongewoon – veral in vergelyking met ander beroemdes s’n. Degeneres deel alledaagse dinge met die leser, maar op `n skreeusnaakse manier.

Mense wat van `n georganiseerde, chronologiese sisteem in boeke hou, sal dalk nie aanklank by die boek vind nie. Die hoofstukke hoef nie in enige spesifieke volgorde gelees te word nie en aan die einde van die boek is daar nie een groot oorheersende boodskap nie, maar eerder `n hele paar kleiner boodskappe. Die boek onthul nie enige iets oor Degeneres wat mens nie reeds weet nie, maar beeld haar eerder uit as `n doodgewone mens met `n buitengewone sin vir humor.

Degeneres kan daarmee spog dat daar iets vir almal in die boek is: daar is spesifieke hoofstukke wat jy vir kinders kan lees en ander wat `n meer volwasse blik op feëverhale gee. Daar is selfs een hoofstuk wat net uit inkleurprente bestaan en `n ander hoofstuk (in die audiobook-weergawe) waar Degeneres snaakse geluide maak.

Seriously… I’m kidding is die perfekte manier om te ontspan en daar gaan beslis dele wees wat jy hardop vir jou vriende sal wil lees. Dit sal jou baie laat lag, maar daar is ook `n paar wyshede wat tussen die lyne opgesluit is.

Image: blogs.roanoke.com

Website | view posts