Lê jy vir ure in jou bed en skape tel, al is jy hoe moeg? Jy is nie die enigste een wat sukkel met slapeloosheid (ook bekend as insomnia) nie.

MIGNON PEENS

Lê jy vir ure in jou bed en skape tel, al is jy hoe moeg? Jy is nie die enigste een wat sukkel met slapeloosheid (ook bekend as insomnia) nie.

Statistiek van eMedicineHealth.com wys dat tussen 30% en 50% van die algemene bevolking met korttermyn slapeloosheid sukkel en 10% met kroniese slapeloosheid. Indien jy onder die indruk is dat jou liggaam normaal funksioneer en gewoond kan raak aan min slaap, hou jy jouself vir die gek. Inteendeel, Marine Corps Universiteit in Amerika reken dat die regte hoeveelheid slaap nodig is vir die herstel van jou liggaam en die optimale funksionering van jou brein.

Kan `n gebrek aan slaap mens regtig negatief affekteer? `n Studie wat by die Loughborough Slaapnavorsingsentrum gedoen is, wys dat `n gebrek aan slaap jou reaksies vertraag en verswak. Jou uitspraak van woorde word ook eentonig, onduidelik en veel stadiger as gewoonweg en jou vermoë om wiskundige berekeninge te doen verminder. Mens begin sukkel om te leer en te onthou, verbeeldingryke woorde te gebruik, kreatief te dink, besluite te neem en te implementeer en om te konsentreer. Al die bogenoemde gevolge van slapeloosheid lei tot frustrasie en maak mens uiters emosioneel. Die National Institute of Neurological Disorders het bewys dat hallusinasies ook kan voorkom.

Die vraag is waarom so baie mense sukkel om hulself in droomland te bevind. Volgens eMedicineHealth.com kan oorsake so eenvoudig soos oormatige kafeïen- en suikerinname wees, maar ook meer komplekse probleme soos te veel stres of `n siektetoestand. Verdere algemene oorsake van korttermyn slapeloosheid is pyn, koors, treurigheid, angstigheid, asemhalingsprobleme, diarree, `n ongemaklike kamertemperatuur, `n verandering in skofwerk en geraas. Onttrekkingsimptome van dwelms, alkohol, kalmeermiddels en stimulerende medikasie is ook `n groot oorsaak.

Langtermyn insomnia, aan die ander kant, word meestal meegebring deur sielkundige en fisiologiese mediese toestande soos skisofrenie, depressie, angstigheid, bipolêre depressie, trauma, kroniese stres en moegheid, acid reflux-siekte, chroniese obstruktiewe lugwegsiektes, asma en selfs `n gewas op die brein. Daar is selfs voorskrifmedikasie wat slapeloosheid kan meebring, soos antidepressante, griepmedikasie wat alkohol bevat, pynpille wat kafeïen bevat, diuretika en hoë-bloeddrukmedikasie.

Hoe kan jy insomnia beveg? Daar is gelukkig `n menigte mediese en homeopatiese oplossings. Indien jou dokter vir jou slaappille voorgeskryf het, beteken dit nie dat jy dit elke aand moet neem sonder dat jy eers natuurlike metodes oorweeg het nie. Wanneer dit kom by slaappille moet mens versigtig wees, aangesien mens daaraan afhanklik kan word vir die res van jou lewe sodra jou liggaam daaraan gewoond raak.

Melatonien is `n hormoon wat deur jou brein afgeskei word en wat in beheer is van jou slaapsiklus. Inname daarvan kan dus as `n alternatiewe, homeopatiese opsie vir slaappille dien. HelpGuide.org reken mens moet nie in die bed klim met die verwagting dat jy moeilik aan die slaap gaan raak nie, want dit vererger net die probleem. Mens moet nuwe gewoontes aanleer, soos om te fokus op slaap en nie probleme of verleenthede nie. Jou kamer moet ook donker en koel wees. Vermy ook slapies gedurende die dag en beperk kafeïen, alkohol en nikotien net voor slaaptyd.

`n Paar Tuks-studente het ook raad, soos Rina Van Niekerk, `n tweedejaar verbruikerswetenskappe student, wat sê: “Dis `n ou army trick om toe oë, mond oop en plat op jou rug te lê. Of jy kan warm melk met peper in drink.”

Melanie Scheepers, `n tweedejaar menslike bewegingskunde student, reken dit werk vir haar om `n vervelige fliek te kyk of `n vervelige boek te lees. `n Hele paar studente, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dat seks en `n zol dagga soos `n bom werk. SleepCottage.com stel voor dat jy `n paar ure voor slaaptyd oefen, `n warm bad neem voor jy in die bed klim, seker maak dat jy `n gemaklike matras en kussing het en dat jy oorpluisies gebruik.

Alhoewel insomnia soms as `n simptoom van ander sielkundige en mediese toestande gesien word, kan dit ook `n versteuring op sy eie wees. Simptome wat tot en met drie weke aanhou word geklassifiseer as akute korttermyn slapeloosheid. Indien dit egter nie behandel word nie, kan dit lei na kroniese insomnia. Dit is dus belangrik om die oorsake van jou slapeloosheid te ondersoek en aan te spreek.

Illustrasie: René Lombard

Website | view posts