TALITA CALITZ
Chris Chameleon is ‘n veelsydige kunstenaar wat sonder skroom sy stem dik maak. In die huidige Suid-Afrikaanse kits-musiekbedryf het hy steeds na vele jare sy eie unieke stempel. Met ‘n kleurryke beroep en aanhangers reg oor die wêreld is Chameleon verseker iemand wat nie gou in die bondel in gaan verdwyn nie. Perdeby het die geleentheid gekry om met die man agter die vele persoonlikhede te gesels.
Boo! het in Februarie ‘n nuwe album opgeneem. Hoe is dit om vir die eerste keer in amper sewe jaar weer saam ‘n album te maak?
Lekker, natuurlik! Ons ken mekaar goed en dis soos fietsry – sommige dinge verleer ‘n mens nooit nie. Omdat ons in Amsterdam was, was daar niks bekend om ons af te lei nie, geen familie of verantwoordelikhede nie. Ons was dus totaal op die album gefokus.
Wat kan Boo!-aanhangers van julle nuwe album verwag?
Dat dit gat gaan skop.
Vir die derde jaar in ‘n ry word jy genomineer vir ‘n SAMA (South African Music Award) Best Male Solo Artist- toekenning. Is erkenning van so ‘n aard vir jou baie belangrik?
Sulke toekennings is ‘n aanduiding van erkenning uit die musiekindustrie. Dit verhoog nie jou verkope nie, maak die sale nie voller nie, maak jou net ‘n baie bietjie meer bekend, maar is baie vleiend omdat dit wys dat jy die aandag van kenners ook kan boei.
Jy, Ampie Omo en Riaan van Rensburg het onlangs skare by Ramfest behoorlik rasend gehad. Hoe het julle dit beleef nadat Boo! vyf jaar laas op die verhoog was?
[Ek] moet erken ons was ‘n bietjie gespanne. Nie oor ons vermoë nie (ons was goed voorbereid) maar wel oor of dit sal werk of nie. Nou-nou gaan staan ‘n mens daar op die verhoog en mense skree: boooo! Of so iets. Wag, dit sal mos eintlik ‘n kompliment wees?
Hierdie jaar skop Boo! se lang verwagte albumtoer in Suid-Afrika en dan Europa af. Wat kan Boo! fans van die toer verwag?
Dis in Mei in Suid-Afrika en Augustus in Europa. Boo! het nog altyd gefokus op die uitspattige, groter as lewensgrootte en die uiters vermaaklike. Al daardie elemente het behoue gebly en ek dink mense sal weer kan lag en huil, in plaas van heelaand rondstaan en met ‘n dikbek probeer cool lyk. Boo! se cool-factor het nog altyd gelê in ons vreeslose naamvergattery. Ons het nie tyd vir cool en korrek wees nie. Ons skiet uit die heup, speel uit die hart en lag uit die maag.
Jou solo Afrikaanse album Kyk Hoe Lyk Ons Nou is ook vir ‘n 2010 SAMA toekenning genomineer. Wat dink jy van die stand van die Afrikaanse musiekbedryf?
Na jare se besonderse groei in beide verkope en die musiek self, kry ek die gevoel dat Afrikaanse musiek tans ‘n bietjie stagneer op beide gebiede. Die verkope het effens getaan en almal probeer soos óf Fokof óf Kurt klink. Tyd vir nog ‘n revolusie.
Dis groot nuus dat jy in Binnelanders die karakter Thomas Badenhorst gaan vertolk. Geniet jy televisiewerk?
Baie. Onthou, ek was ‘n professionele akteur voor ek ‘n professionele musikant geword het. Die toneelding sit maar in ‘n mens se bloed en ek hunker dikwels daarna. Dis moeilik om beide te doen, omdat jy elke dag in ‘n ander dorp moet wees vir musiek maar elke dag in dieselfde dorp vir toneelspeel. Daarom is iets soos Binnelanders, met hulle gunstige skedulering ‘n puik oplossing.
Op die verhoog weerspieël jy soveel karakters. Waar kom jou inspirasie vir die karakters vandaan?
Wens ek het geweet, want dan kon ek dit gaan haal het as ek dit nodig het. Maar inspirasie werk nie so nie. Dit kom soek jou, soms glad nie wanneer jy dit nodig het nie. As dit kom, gebruik ek dit en verewig dit in my toekomstige benadering.
Sal daar ooit ‘n oomblik wees wat Chris Chameleon sy kitaar sal neer sit en dink, “Nou het ek genoeg bereik?” Waar sien jy jouself oor ‘n paar jaar?
Ek het jare gelede al my kitaar neergesit en gesê, “Nou’t ek genoeg gehad,” maar die flippen ding kom gryp my nou en sleep my verhoog toe! Die toekoms is duister, ek mors geen tyd daarop nie.