NATASHIA HUDSON
“Skop, skiet en donner” is nie net byvoeglike naamwoorde wat ’n Chuck Norris-fliek beskryf nie, maar ook die naam van Van Coke Kartel se nuutste vollengte album. Van Coke Kartel se derde album bevat 13 liedjies waarvan drie akoestiese verwerkings is van liedjies vanuit die groep se vorige twee albums. Verder is daar ook drie covers op die album soos “Cocaine” en “Maniac” waarin Van Coke Kartel in ’n Top Gun-elektro manier rock terwyl Francois van Coke jou regop laat sit met sy Engelse lirieke.
“Voor ons stof word”, die eerste enkelspeler op die album, bly egter tipies Van Coke en is op die oomblik baie gewild. Hierdie liedjie is saamsing en air guitar op sy lekkerste en het reeds nommer een op MK se Top 10 en TuksFM se SA Top 10 behaal. Die tweede enkelspeler “Ondier kom!” stoom met dieselfde energie voort en vertoon met sy effens donkerder ondertoon Van Coke Kartel se musikale diversiteit. “Huissiek Gebede”, die derde enkelspeler op die album, is ook ’n hoogtepunt en is ’n vokale kollaborasie tussen aKING se Laudo Liebenberg en Francois van Coke waarin hulle stemme soos Amarula en ys saamsmelt.
In geheel is Skop, skiet en donner presies dít wat van ’n Van Coke album verwag kan word met interessante detail te danke aan die produksie van Peach van Pletzen (meer bekend as die man agter Yesterday’s Pupil). Vir die gemiddelde ou is Skop, skiet en donner dalk nou nie vreeslik watwonders nie, maar hierdie album sal beslis baie geliefd wees onder Van Coke Kartel-ondersteuners.