STEPHANIE KRUGER
Op 10 Maart het 23 dames van verskeie koshuise by Kollege bymekaargekom om te sien wie van hulle met die titel van Mej. Kollege kon wegstap. Met hare gedoen en grimering perfek het elkeen gehoop om haar koshuis trots te maak.
Die Kollege-manne het op hul beurt reggestaan met hul beroemde punch en goeie sin vir humor terwyl Robbie Kruse, seremoniemeester vir die aand, die deelnemers een vir een op die verhoog verwelkom het.
Dit was omtrent iets om te aanskou. Beeldskone dames in kampusdrag op die verhoog, punch in amper elke hand en jolige studente, vanaf vreemdelinge tot seniors, wat die hele saal volstaan.
Nie alleen was die dames beoordeel op grond van hul voorkoms nie, maar ook hul persoonlikhede en die antwoorde op hul vrae in sekere rondtes.
Daar was drie afdelings naamlik kampus-drag, formele en stranddrag, waartydens die dames kans gehad het om die beoordelaars se guns te wen. Frank Mokoloboto, President van Kollege asook ‘n beoordeelaar van die kompetisie, sê dat formele drag sy gunsteling- afdeling was omdat hy absoluut mal is oor ‘n elegante vrou. In hierdie afdeling het die deelnemers ook elkeen ‘n vraag uit ‘n hoed getrek en moes dit dan na die beste van hul vermoë beantwoord. ‘n Paar van die vrae was maar vreemd en kontroversieel, maar dit het nietemin gesorg vir groot vermaak.
Tydens die stranddragafdeling moes die meisies ‘n voorwerp uit ‘n sak trek en dan ‘n onkonvensionele gebruik daarvoor noem.
Die beoordeelaars, Zanri Serfontein van Stuku, Ian Mulder, Visepresident van Kollege asook minister van “Brotherhood” en Feesjaar, en Karin Venter, ‘n senior in Vividus, het besluit om Megan Clack van Klaradyn as Mej. Kollege te kroon. Elektra Stobe van Magrietjie en Tanaka Motsi van Madelief is as eerste en tweede prinsesse gekroon.
Clack sê sy was aangenaam verras en voel dat dit ‘n groot eer is om die titel te kon wen.
Nadat die wenners aangekondig is, het ‘n jolige klomp die saal verlaat. Almal skielik meer positief teenoor skoonheidskompetisies. Alles te danke aan Kollege, en miskien ook die punch!