NATASHIA HUDSON

Septembermaand is seker een van die vrolikste en opwindendste maande van die jaar en dis net ’n paar slapies weg. Dit is die maand waarin ’n studentevakansie lê en wink en studente nog eksamens as “v-e-e-e-r weg” kan beskryf sonder om skuldig te voel. Die maand waarin winterjassies weggepak word, piekniekmandjies afgestof word en swembadpartytjies nie meer tot dubbele longontsteking lei nie. Nie net sluit hierdie maand Lentedag, prentjiemooi weer en helder blomme in nie, maar ook ’n wye verskeidenheid musiek-, wyn- en kunstefeeste. Dít is sowaar genoeg rede om fees te vier! Perdeby het besluit om julle lus solank te slyp vir ’n paar van die opkomende feeste.

Capital Arts-fees:

Hierdie fees sal enige kunsliefhebber in ekstase hê. Jazz, dans, poësie, kunsuitstallings en drama vanuit lande soos Rusland, Brasilië, Jamaika, China en Spanje sal daar te sien wees. Uitstekende plaaslike talent is ook volop tydens hierdie weeklange fees. Hoogtepunte wat beslis nie misgeloop moet word nie, sluit in plaaslike musieklegende Hugh Masekela en Will Power, ‘n Amerikaanse hip-hop teater-ster. Die Capital Arts-fees vind plaas van 28 Augustus tot 7 September by die Staatsteater in Pretoria.

Tshwane Internasionale Skou:

Hierdie kleurvolle skou, voorheen bekend as die Pretoria-skou, bestaan onder andere uit honderde stalletjies wat herinner aan ’n vlooimark. Enigiets van duur handsakke, elektroniese sigarette, eksklusiewe kunswerke, borrelbaddens en brandrissiesouse word verkoop. Dit is egter nie net ’n reuse inkopietog vir die Evas nie.

Die Suid-Afrikaanse Weermag beloof ’n vermaaklike uitstalling te wees waar mense kan skyfskiet en in oorlogtenks kan rondklouter terwyl die pretpark se wipwaentjies en tuimeltrein die adrenalien-vlakke hoog hou. Spookasem en die mallemeule (ferris wheel) rond die prentjie af waarna optredes van gewilde musiekgroepe by verskillende verhoë geniet kan word.

Foto Na Dans en Flashrepublic tree 27 Augustus op en Thieve, Die Heuwels Fantasties en Jack Parow gaan 28 Augustus die skare vermaak. Die Tshwane Internasionale Skou vind plaas van 27 Augustus tot 5 September by die Tshwane Events Centre (voorheen bekend as die Pretoria-skougronde). Toegang vir volwassenes beloop R45 in die week en R55 oor die naweek.

Soweto-wynfees

Dit is vanjaar sy sesde bestaansjaar en die Soweto-wynfees het rede om te spog nadat dit laasjaar sowat 5 500 mense gelok het. Die fees bied die ideale geleentheid om geroeste wynkennis op te knap en die smaakkliere op te kikker. Die toegangsgeld, R60, sluit ’n gratis glas wyn in en bied meer as 800 wyne om van te proe – enige wynliefhebber se droom. Dit word egter aanbeveel om iemand vooraf as bestuurder aan te wys. Die Soweto wynfees vind plaas van 2 tot 4 September by die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus.

Septembermaand lyk beslis na ’n fees …

Foto: Ted Szukalski

Website | view posts