SHAWNA-LEZE MEIRING
`n Fliekkaartjie van die eerste Harry Potter film, die program van `n skoolkonsert en `n graad een rapport. Reuke, geure en herinneringe wat met die lees van `n verjaarsdagkaartjie saamloop: sentimentele voorwerpe wat `n mens terugvoer in tyd.
Sentimentaliteit is die gevolg van vaskleef aan mense, dinge en idees. James Robinson, spirituele adviseur en skrywer op SelfGrowth.com, meen dié sentimente word dikwels met liefde verwar en veroorsaak emosionele trauma wanneer die waarde van die sentiment verander. Robinson meen dat wanneer mense aan `n voorwerp of `n persoon geheg raak, hulle nie hierdie verbintenis wil verbreek nie. Die verloop van die wêreld is egter só dat alles verander en net tydelik is.
Robinson sê dat dit nie net voorwerpe is waaroor mense sentimenteel raak nie, maar ook geld. Die wete dat daar geld in die bank is, klere om te dra en motors om mee te ry bring sekerheid en gemak. Geluk word gemeet aan hoe groot `n bankbalans is. Of dan nie? Die geskiedenis herinner aan talle ryk en invloedryke mense wat uiteindelik arm en alleen gesterf het.
Die opgaar van voorwerpe verbonde aan `n gebeurtenis is dikwels die gevolg van `n vrees dat die herinnering verlore sal gaan. Die BBC het in `n artikel oor nostalgie gesê dat dit `n manier is om spesiale gebeure in `n mens se lewe te herleef. Die voorwerpe herinner `n mens aan geluk en dat die lewe kosbaar is.
Om aan die verlede te dink is goed wanneer dit vir die regte redes gedoen word, soos terugflitse na gelukkige vakansies wanneer daar deur vakansiefoto’s geblaai word. Wanneer mense egter te veel terugdink aan die verlede kan hulle depressief raak oor hulle hede en dit wat die toekoms mag inhou.
`n Verslag van Psychology Today wys dat `n oormatige terugleef in die verlede `n persoon van geluk in die hede kan beroof. Mense raak gebonde aan die verlede en beweeg en groei nie saam met die moderne tye nie.
Negatiewe sentimente soos die dood van `n geliefde of verbrokkelde verhoudings word ook aan voorwerpe geheg. `n Liefdesbriefie van `n vorige verhouding wat eens `n romantiese en verliefde gevoel teweeggebring het, kan nou dalk hartseer of pyn verteenwoordig.
Damian Barr, skrywer van die boek Get It Together, waarsku dat die terugdink aan gebeurtenisse `n persoon nie emosioneel en sosiaal op die hede en toekoms voorberei nie. Om byvoorbeeld heeltyd na skooldae en die stadiger werkpas daarvan te verlang, gaan van geen hulp wees om die vinniger tempo van universiteit te kan hanteer nie. Om sentimenteel te wees oor gedenkstukke is nie verkeerd nie, meen Joshua Fields Mildburn, leefstyljoernalis en blogger van The Minimalists. Dit is egter belangrik om te onderskei tussen wat werklik sentiment inhou en wat slegs `n vae herinnering aan `n dag of gebeurtenis bied. Millburn vertel hoe hy besef het dat herinneringe nie in besittings lê nie, maar in `n mens se gedagtes. Om aandenkings op te gaar weeg fisies en emosioneel swaar. Terwyl `n teekoppie van Ouma miskien `n waardevolle gedenkstuk is, kan `n verdroogde teesakkie wat Ouma ook eens gebruik het nie werklik sentiment inhou nie.
Wanneer `n geliefde sterf is mense geneig om alle herinneringe te wil bewaar. Millburn skryf hoe hy al sy ma se besittings na haar dood wou hou. Eers na hy bokse met boeke en rapporte van sy eie skooldae onder haar bed gekry het, het hy besluit om van haar besittings ontslae te raak. Hy het besef dat mense net gedenkstukke hou omdat hulle aan die verlede wil vasklou. Om al hierdie dinge op te gaar en dit nie te gebruik nie is sinneloos. Die gebeurtenis is tog onuitwisbaar.
Die skoenboks met liefdesbriefies, fliekkaartjies en strokies van McDonald’s McFlurries herinner aan skooldae of vakansies. Dae sonder bekommernisse. Sentiment is waardevol as `n herinnering aan die goeie tye en dit wat die slegte tye jou geleer het. Maar onthou om die swaar sakke en oorvol laaie leeg te maak as aansporing vir die herinneringe wat wag.
Photo: Paul Dos Santos