Semi-Soet: Afrikaans, snaaks en nie `n musiekblyspel nie

by PDBY Staff | Mar 6, 2012 | Uncategorized

 

MAGDALEEN SNYMAN Jou ma kan nie wag om dit saam met tannie so-en-so van die kerk te gaan kyk nie. Jou sussie se vriendinne het reeds die klankbaan. Jou vriende sal nooit erken dat hulle dit geniet het nie, terwyl jy wonder of dié Afrikaanse fliek enigsins anders as sy voorlopers van die afgelope paar jaar gaan wees. Semi-Soet is `n romantiese komedie wat afspeel in Johannesburg en die Kaapse Wynlande. Soos enige romantiese komedie is daar maar min dele van die storielyn wat die gehoor sal verras: die ou Hollywood-resep word gevolg. Dit is egter interessant om hierdie tipe storie in `n Suid-Afrikaanse konteks te sien afspeel. Die fliek weerspieël die besigheidswêreld van Johannesburg baie goed sonder om opsetlik polities-korrek te wees. `n Gewetenlose sakeman is daarop uit om `n firma oor te neem en almal af te dank wanneer hy per ongeluk as iemand anders aangesien word deur die vroulike hoofkarakter wat by hierdie firma werk. Hy besluit om saam te speel en word vasgevang in `n deurmekaarspul van leuens (met komiese gevolge) op `n wynplaas, waar hy op haar verlief raak. As jy van flieks soos The Wedding Date en I Could Never Be Your Woman gehou het, sal jy hierdie storielyn geniet. Vanuit `n tegniese oogpunt is die film werklik uitstekend. Die kamerawerk kan maklik met internasionale films kompeteer en gehore sal daarna uitsien om hulle gunsteling plekke in die fliek raak te sien. As jy nie van Afrikaanse musiek hou nie, gaan die musiek in Semi-Soet jou dalk `n bietjie irriteer, maar `n goeie balans tussen genres is getref deurdat alles van sokkietreffers tot Die Heuwels Fantasties ingesluit is. Die film is nie `n musiekblyspel (soos Liefling) nie, wat gelukkig ook beteken dat die toneelspel beter is as dié van mense wat professionele sangers eerder as akteurs is. Dit gesê, daar is minstens drie homoseksuele manlike karakters in die fliek wat op `n baie ongeloofwaardige en stereotipiese manier uitgebeeld word. JP die “Jackal”, vertolk deur Nico Panagiotopoulos, sal enige meisie se bad-boy fantasieë prikkel en om hom in `n rooi speedo te sien is `n groot bonus. Die snaaksste tonele in die film is wanneer JP sy mond verby praat, `n gek van homself maak en per ongeluk lepellê met sy prokureur. Die prokureur, vertolk deur Louw Venter, sorg vir baie komedie as `n heteroseksuele man wat moet maak asof hy homoseksueel is weens een van JP se leuens. Anel Alexander (wat saam met haar man verantwoordelik is vir die vervaardiging van die film) speel Jaci, `n werkslaaf wat enige iets sal doen om haar firma te red. Ongelukkig is die vroulike karakters in die film se dialoog oor die algemeen kinderagtig en hulle grappe vol clichès. Die karakterontwikkeling vind bietjie vinnig plaas en kykers wat al gewoond is aan Diaan Lawrence se dom blondine persona op 7de Laan sal haar nie juis vermaaklik vind in Semi-Soet nie. Paul Du Toit (Markus) is egter heel komies met sy Pretôria-aksent en simpel gesprekspunte. Semi-Soet, wat in sy openingsnaweek meer as R1.3 miljoen verdien het, het films soos Jakhalsdans en Platteland verbygesteek in kaartjieverkope. Of dit jou tipe fliek is moet jy self besluit, maar Semi-Soet is beslis deel van `n genre wat al hoe gewilder word in rolprentteaters regoor Suid-Afrika. BEVINDING: 6/10 Beeld: www.themovies.co.za

Website | view posts