MINNETTE NIEUWOUDT
Wat maak ‘n fotograaf, ‘n joernalis en ‘n rock-ster in ‘n visgereiwinkel? Wel, as die fotograaf in kunsfotografie spesialiseer, die joernalis vir Perdeby werk en die rock-ster vir Seether baskitaar speel is hulle besig met ‘n onderhoud … natuurlik!
Die groep Seether is alombekend. Hulle het in die laat negentigerjare as Saron Gas in Suid-Afrika begin speel en het tot en met 2001 nog by middagete-konserte opgetree. Waarom die naamsverandering? Teorieë sluit alles in, van druk van die groep se nuwe VSA-gebaseerde platemaatskappy, tot ‘n distansiëring van die giftige gas wat amper tydens die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe gebruik is. Hoe dit ook al sy, Seether is die naam op duisende lippe.
Dale Stewart het vir ‘n rukkie na sy heimat teruggekeer, voordat Seether se volgende toer in die VSA aan die einde van Augustus afskop. ‘n Rukkie is meer as genoeg tyd vir Perdeby om iets uit te vis oor hul toerskedule, nuwe CD en hoekom 80s pop-ballades ‘n sagte plekkie in hul harte het.
Nie die naam of die datum vir die vrystelling van die nuwe album is al vasgemaak nie, maar die opnames is reeds afgehandel. “Ons sal seker ‘n single uitreik, gouer eerder as later. Ons wil nie die proses jaag nie. Ons sal liewers ons tyd neem en seker maak dat, wanneer dit uitkom, dit goed is,” sê Stewart.
Seether se nuwe album word deur Brendan O’Brien vervaardig. Hy is bekend vir sy werk saam met groepe soos Korn, Stone Temple Pilots en Pearl Jam. “Ek was net opgewonde om hom te ontmoet,” meen Stewart. “Hy was betrokke by my gunsteling groepe toe ek jonk was.”
Die nuwe CD lê die groep na aan die hart. “Dit is ‘n bietjie anders as wat ons tevore gedoen het, maar ek voel dat al ons albums ‘n bietjie anders as die voriges is. Ons wil die tipe band wees wat explore. Ons wil nie dieselfde ding oor en oor doen nie.” Volgens Stewart is daar ‘n klomp ander groepe wat ‘n formule volg. Alles klink dieselfde. “Ons invloede is so wyd – enigiets van the Beatles tot nuwe groepe.”
Maar Seether het nog hul wortels in grunge musiek: “Toe ons jonk was, was grunge baie groot. Ek dink dit is wat ons kitare wou laat optel. Met grunge musiek was daar altyd die aggressie, natuurlik, maar ten spyte daarvan was daar ook altyd ‘n pop sensibility. Die melodie was altyd daar.”
Dit verklaar dan hoekom Seether so graag ‘n ballade of twee uitreik. Treffers soos Fine Again, Rise Above This en natuurlik die 80s cover Careless Whisper kan genoem word. Stewart meen Careless Whisper is ‘n goeie liedjie met ‘n goeie melodie. Hy het onlangs Hungry Eyes van Eric Carmen afgelaai. Hy sê dis omdat hy die liedjie deel van sy toespraak by sy sussie se troue wil maak, maar Perdeby meen anders. Miskien is dit die eerste enkelspeler van die nuwe album af?
Of miskien moet ons op die uitkyk wees vir ‘n Tim McGraw-classic? Of ‘n samewerking met Weird Al Yankovic. Dis immers twee van die kunstenaars wat die verhoog met Seether by die Minnesota State Fair gaan deel. “Ek het dit nie eers geweet nie,” lag Stewart. “Ek hou daarvan om met ‘n diverse line-up op te tree – dit laat ‘n mens uitstaan.”
Seether het reeds ‘n verhoog gedeel met groot name soos Deftones, 3 Days Grace, Papa Roach en, by die 2006 My Coke Fest, Metallica. Ongelukkig het die groep nie enige planne om na Suid-Afrika terug te keer nie. Dis ‘n logistieke nagmerrie om die hele span na donker Afrika te vervoer en natuurlik kos dit ‘n hoop geld. Groter oorhoofse kostes lei tot duur konsertkaartjies en dit, voel Stewart, is nie regverdig teenoor die fans nie.
So, op die oomblik staan ons op geen toerdatums, geen vrystellingsdatum vir die nuwe CD nie en ook geen tips vir stywe lyne nie. Hoekom voel dit asof die grote weggekom het? Die waarheid van die saak is dit: money makes the world go round. Perdeby twyfel nie vir een oomblik Stewart se opregtheid wanneer hy sê dat hy graag na Suid-Afrika toe terugkom nie. Die jammerte is dat sy verlange alleen nie die rekeninge gaan betaal nie.
Die toekoms vir Suid-Afrikaanse aanhangers lyk maar ‘n bietjie bleek. Ten spyte daarvan sal ons maar probeer om die positiewe in ‘n slegte situasie te vind. Daar is ‘n nuwe album oppad, dit behoort – eventueel – hier uit te kom en dan kan Seether eendag op ‘n reëndag weer ‘n paar opvoerings hier kom doen. Tot dan sal ons maar op liefde en koue water (sonder vis) moet oorleef.
Foto: AJ Howard