LUZAAN VAN DER WESTHUIZEN
Dit blyk die Majas se kalender het selfs `n invloed op die rolprentbedryf: talle langverwagte rolprente sal voor 2012 op die silwerdoek te sien wees. In 2011 is daar vele opvolgprente, boekaanpassings en animasiefilms om na uit te sien. Perdeby gee `n oorsig oor die tien moétkyk films van die jaar.
1. The Twilight Saga: Breaking Dawn Part One
Isabella Swan, die Cullens en Jacob Black is terug vir die eerste deel van die laaste hoofstuk van die Twilight-reeks. Met `n troue en wittebrood wat wag, kan span Edward, Bella en Black-ondersteuners die dae aftel. Volgens IMDb.com, tref deel een teaters in November. Regisseur Bill Condon sal deel een en twee van die laaste insetsel van die Twilight-reeks behartig. Anti-Twilighters byt vas – dis amper verby.
2. The Adventures of Tintin: The Secret of The Unicorn
Bekende filmregisseurs Steven Spielberg en Peter Jackson bring die Belgiese skrywer, Hergé, se tagtig jaar-oue strokiesprent na teaters. Soos Beowulf en Avatar, sal die rolprent met die gebruik van CGI-tegnologie (rekenaargegenereerde beelde) verfilm word. Volgens Tintin.movie-trailer.com, meen Spielberg dat `n digitale weergawe van Tintin meer getrou aan Hergé se skepping sal wees as `n lewende aksiefilm soos die 1964 film-weergawe. Fliekgangers kan hulself gereed maak vir `n Tintin-trilogie.
3. Pirates of The Caribbean: On Stranger Tides
As Edward Cullen nie jou lewe vervolmaak nie, sal Kaptein Jack Sparrow moontlik jou boot laat seil. In On Stranger Tides is Jack Sparrow en Barbossa op soek na die fontein van ewige jeug. Keira Knightley en Orlando Bloom sal nie in die vierde film te sien wees nie, maar met Johnny Depp, Penélope Cruz en Geoffrey Rush is dit darem vergeeflik. Volgens On Stranger Tides se offisiële webtuiste, Disney.go.com/pirates, begin dit einde Mei in teaters draai.
4. Harry Potter and The Deathly Hallows: Part 2
Harry Potter, Ron Weasley en Hermione Granger se reis kom na tien jaar tot `n einde. Die Harry Potter-manie het in 2001 afgeskop toe die outjies as 11-jariges by Hogwarts begin skoolgaan het. Agt films later keer Harry, Ron en Hermione terug na Hogwarts om Lord Voldemort finaal te vernietig. Die laaste insetsel is `n absolute móét vir Harry Potter fans asook die gewone fliekganger. Die fliek behoort 15 Julie vrygestel te word.
5. Transformers: Dark of The Moon
Jammer ouens – geen Megan Fox in die derde fliek nie. Shia LaBeouf is natuurlik terug as Sam Witwicky. Volgens ‘n sinopsis wat op Amazon.com uigereik is, is die Autobots en Decepticons weer aan die veg en is daar nuwe karakters om na uit te sien. Volgens Transformersmovie.com sal die derde insetsel in 3D in Julie uitgereik word.
6. The Girl with The Dragon Tattoo
Hierdie film is `n boekaanpassing van Stieg Larsson se eerste boek in sy Millenium Trilogy. In 2009 is `n Sweedse weergawe van The Girl With The Dragon Tattoo uitgereik. Regisseur David Fincher, bekend vir Fight Club en The Social Network, is volgens Movienewz.com verantwoordelik vir die eerste Amerikaanse weergawe wat teaters teen die einde van die jaar sal tref.
7. Cowboys and Aliens
Tussen die vampierliefde en opvolgprente moet daar iewers `n goeie aksiefilm wees. Daniel Craig, Harrison Ford en Olivia Wilde (van House en Tron: Legacy) is in hierdie aksie/sci-fi film te sien. Volgens IMDb.com speel die film in 1873 Arizona af: `n ruimteskip met ruimtewesens wil die wêreld oorneem en al wat in hul pad staan is die cowboys.
8. Thor
Anthony Hopkins, Natalie Portman en Chris Hemsworth is in hierdie film te sien. Thor is gebaseer op die Marvel Comics se Thor-strokiesprente. Thor word uit Asgard verban en na die aarde toe gestuur om tussen mense te woon. Wat aanvanklik sy straf moes wees, verander in `n seën as Thor die aarde se beskermer word.
9. One Day
Die jaar sal nie volmaak wees sonder `n romantiese film om na uit te sien nie. One Day is `n boekaanpassing van David Nicholls se roman met dieselfde titel. Anne Hathaway (Emma) en Jim Sturgess (Dexter) is in One Day te sien. Volgens IMDb.com spandeer Emma en Dexter die aand van hulle gradeplegtigheid saam. Hulle ontmoet mekaar elke jaar daarna op dieselfde datum om te sien wat die afgelope tyd in elkeen se lewe gebeur het.
10. Scream 4
Scream het in 1996 afgeskop. Daar is diegene wat mal is oor die Scream films; dan is daar sekeres wat voel dat dit tyd is om op te hou. Ou gesigte Neve Campbell, Courtney Cox en David Arquette sal weer met die Ghostface Killer te doen kry. Emma Roberts en Hayden Panettiere is ook in Scream 4 te sien. Verwag dieselfde formule as die vorige Scream films, want regisseur Wes Craven hou by dit wat werk.
Image: www.aceshowbiz.com
