COBUS COETZEE
AJ Pienaar, beter bekend as Obus onder sy Vrystaatse Chevrolet Knights-spanmaats, is net een van die talle Suid-Afrikaners wat op die oomblik oorsee hul staal met bal en kolf op die krieketveld wys.
Pienaar het sy landgenoot, AB de Villiers, se rekord aan flarde gekolf nadat hy 244 van slegs 114 balle vir sy Ierse krieketklub Waringstown teen CIYMS op The Lawn krieketveld gemoker het.
Sy klub se webtuiste berig dat hierdie spesifieke veld een van die grootste krieketvelde is, maar dat Pienaar dit sommer klein laat lyk het.
Dit is die hoogste telling nog in die Northern Cricket Union, en het De Villiers se voormalige rekord van 233, wat hy in 2004 vir Carrickfergus teen Cliftonville aangeteken het, oortref.
Die 21-jarige Pienaar se kolfbeurt het 22 sesse en 13 viere ingesluit, en hy het sy dubbele honderdtal van slegs 96 aflewerings behaal.
Hoewel sy klub, die Villagers, net 374 vir 6 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken, is die besoekende span met 18 lopies beboet vir stadige boulwerk. Die webtuiste berig dat dit waarskynlik van al die balle is wat hulle op die aangrensende veld moes gaan soek. Dit het aan CIYMS `n teiken van 393 gestel om te wen. CIYMS kon daarna `n skamele 146 lopies behaal.
Pienaar het in onlangse wedstryde teen die Instonians 81 lopies aangeteken, en `n onoorwonne 135 in 70 balle teen YMCA.
Bo en behalwe sy goeie kolfvermoë en vorm, is hy ook een van sy klub se staatmaker-boulers. Hierdie veelsydige speler is vir groot dinge bestem, berig die Villigers se webtuiste. Pienaar is `n voormalige Suid-Afrikaanse o.19-speler.
Dit is egter nie net in Ierland waar Suid-Afrikaners goed presteer nie. Die 4de Indiese Premier Liga (IPL) is tans aan die gang en staan einde se kant toe. Al die wedstryde is gespeel behalwe die finaal.
Beide die Morkel-broers vaar goed met die bal in vanjaar se IPL. Albie Morkel is tans die beste Suid-Afrikaanse bouler met 14 paaltjies in die toernooi vir die Chennai Super Kings, en is ook onlangs as sy Suid-Afrikaanse tuisspan, die Northern Titans, se speler van die jaar aangewys.
Sy broer, Morne Morkel, volg kort op sy hakke met 13 paaltjies vir die Delhi Daredevils. Dale Steyn, wat vir die Deccan Chargers speel, het al 13 kolwers terug pawiljoen toe gestuur gedurende die toernooi.
Jacques Kallis is op sy stukke met die kolf, en het al 358 lopies vir die Kolkata Knight Riders geslaan, wat onder andere drie vyftigtalle insluit. Sy veilige hande het ook al nege vangskote raakgevang, die meeste van enige speler in die toernooi sover.
AB de Villiers het al 262 lopies vir die Royal Challengers Bangalore aangeteken.
Die Chennai Super Kings was teen druktyd bo aan die punteleer met nege oorwinnings van 13 wedstryde.
Die finaal van die Twintig20 IPL reeks sal op 28 Mei gespeel word om 16:30 Suid Afrikaanse tyd.
Suid-Afrikaners kan hulself vir klipharde krieket later vanjaar gereed maak wanneer Australië en Sri Lanka na Suid-Afrika in Oktober en Desember onderskeidelik toer.