Resensie: Verganklik en Afhanklik

by PDBY Staff | Jul 31, 2012 | Entertainment

JP NATHRASS

Verganklik en Afhanklik is Glaskas se vierde album nadat hulle bekendheid verwerf het in die Rockspaaider kompetisie. Hulle benader met hierdie album meer volwasse onderwerpe.

Glaskas word nog altyd deur hulle eenvoudige melodieë en sterk lirieke gekenmerk en Verganklik en Afhanklik wyk nie hiervan af nie. Alhoewel die album steeds by hierdie eenvoud bly, kan mens dadelik agterkom dat dit algeheel `n vinniger tempo het. “Kwesbaar” fokus op vinnige kitaarspel in die klassieke punk rock formule wat kenmerkend van Glaskas is. Definitief `n snit wat mense aan die dans gaan kry.

Die eerste radiosnit van die album, “Menslik”, herinner baie aan die groep se vorige treffers. Ongelukkig geld dit ook vir die res van die snitte op die album. Hulle lirieke word dalk beter, maar hulle resep bly dieselfde – selfs hulle verwysings na hulle musikale rolmodelle. Teen dié tyd weet die Suid-Afrikaanse mark dat Glaskas respek vir Jimi Hendrix het.

Daar is ook `n colab met `n nuwe naam in Suid-Afrikaanse musiek, HemelBesem. “Wegbreek” het `n sterk kitaarritme en Deon Meiring stel van sy beste vokale talent ten toon. HemelBesem slaag daarin om met `n unieke rap-styl die eentonigheid wat op die album begin kop uitsteek, te breek.

Glaskas se Verganklik en Afhanklik bevat ook `n weergawe van Johannes Kerkorrel se “Revolusie”. Glaskas het daarin geslaag om die ou treffer te verwerk in hulle eie styl sonder om die oorspronklike gevoel van die liedjie te verloor.

“Hoe Meer Ek Voel” is `n voorbeeld van Glaskas se goeie lirieke, maar ongelukkig voel dit asof die krag van die lirieke verlore gaan wanneer die musiek Meiring se stem oorweldig.

Verganklik en Afhanklik wys dat Glaskas die ruimte en potensiaal het om te groei as musikante – veral met hulle lirieke – maar daar moet meer aandag gegee word aan die musiek indien hulle nie net as `n vier-akkoord-punk-band geklassifiseer wil word nie.

BEVINDING: 6/10

Sien die “Menslik” musiekvideo hier onder of op jou foon: ilincc Perdeby7413f.

 

Beeld: www.mk.dstv.com

Website | view posts