JP NATHRASS

Die Tuindwergies se tweede album, Terwyl Die Donker Wolke Dans, volg op die suksesvolle Tuisgekweek. Terwyl Die Donker Wolke Dans is `n bewys van hoeveel Die Tuindwergies oor die laaste paar jaar verbeter het.

Die eerste snit van die album, “Golwe”, het `n aansteeklike melodie (met gebruik van `n banjo) saam met sterk lirieke. Die res van die album word ook beter hoe meer mens daarna luister.

Die album dek `n verskeidenheid temas en musikale style. Van die “bluesy” “Blou gras”, met `n kitaarsolo wat enige “blues” kunstenaar van die 1950`s trots sal maak, tot `n interessante colab met Francois van Coke op “Paar stappe voor”, wat handel oor `n meisie in die gehoor wat hulle oog vang. Die kombinasie van hulle stemme maak vir `n interessante musiekstyl.

Die Tuindwergies het ook `n brawe besluit geneem om hul eie weergawe van `n Dawid Kramer treffer te speel. Hulle doen gelukkig aan die reputasie van die klassieke “Meisie Sonder Sokkies” gestand. Pieter De Jager (sanger) voeg selfs `n effense Kramer-aksent by.

Die album behou steeds die diep en persoonlike lirieke waarvoor Die Tuindwergies bekendheid verwerf het. “Byle en Uile” handel oor `n verhouding en kan deur een sin uit die lirieke opgesom word: “So onbewus tog so aspris.” “Stop Asseblief” is `n alternatiewe ballade wat vir `n lang tyd deur jou kop sal draai.

Terwyl Die Donker Wolke Dans bewys dat Die Tuindwergies `n jong groep is met baie potensiaal om nog ver met hul musiekloopbaan te vorder. Die groep se musikale talent verbaas jou elke keer wanneer jy na die album luister.

Terwyl Die Donker Wolke Dans is beslis `n moet vir bestaande bewonderaars van die groep en ook vir enige iemand wat na iets nuuts opsoek is.

Kyk die Jacaranda Friday Live video van “Meisie Sonder Sokkies” op hier onder of deur ilincc: Perdeby7413e.

BEVINDING: 8/10

 

Website | view posts