Louise Pieterse
Perdeby gesels met Madelè Nelson, Primaria van Huis Klaradyn.
Wat studeer jy?
Ek studeer BCom Menslike hulbron-bestuur met die oog op bedryfsielkunde.
Hoe lank is jy al in Klaradyn?
Dit is tans my vierde jaar.
Watter oomblik, deur die jare, staan vir jou uit?
Toe ek in my eerste jaar as ‘n klein, bang welpietjie voor die HK staan en hulle ons begin oriënteer deur trots oor Klaradyn met ons te gesels, toe het ek besef ek gaan deel word van iets amazing en groots in hierdie huis. Serrie is natuurlik ook altyd ‘n hoogtepunt!
Wat sou jy sê is ‘n Klaradyn-meisie se beste eienskap?
Ons passie vir die lewe. Die feit dat ons staan vir dit waarin ons glo en dat ons alles aanpak met die malste energie en gees wat almal beny. En dat ons weet waar ons krag vandaan kom: van bo!
Wie is jou gunsteling-manskoshuis?
Nou moet ek mooi dink. (Lees hulle hierdie?) As my vriendinne moet sê wat my gunsteling is sal dit seker Maroela wees, want my boetie was tot laasjaar daar. Maar nou is elke koshuis eintlik my gunsteling op ‘n ander manier. Elkeen staan uit op sy eie gebied!
Wat sal mense verbaas wees om van jou te hoor?
Ek is mal oor suurwurms wat gesmelt is in die mikrogolf en ek is verslaaf aan draf.
Wat dink jy van Julius Malema?
Ek dink mnr. Malema is besig om die goeie beeld van Suid-Afrika te probeer aftakel deur ondeurdagte stellings te maak. Maar ek glo ons moet almal positief bly oor Suid-Afrika en nie ons siening oor ons land verander deur wat een persoon sê of doen nie. Ons het ‘n beautiful land en ons het al ver gekom met integrasie in die reënboognasie. As ek na Klaradyn kyk is ons een huis – ons het nie wit of swart bloed nie, maar geel. Ons staan saam. Dieselfde geld vir Suid-Afrika
Gaan jy enige 2010 sokkerwedstryde kyk?
Ek wil baie graag. ‘n Brasiliaanse game sal nie te sleg wees nie. As iemand ‘n ekstra kaartjie vir Bafana het bel my asseblief! Ayoba!
Wat is Klaradyn se grootste tradisie?
Die leeugroet en die klarrie-handeklap is iets waarvoor Klaradyn bekend is en dan natuurlik ons ‘Bruljante’ BRUL wat al die manskoshuise van weet!
As jy iets kon verander in die koshuis, wat sou dit wees?
Ek sou graag ons ou eetsaal wou terughê en natuurlik verlang ons almal na Roosmaryn en ou Rosey die spook!
Wat is jou plan vir die koshuis in 2010?
Om vir almal in Klaradyn ‘n lekker tyd te waarborg. Om te groei as Klaradyn-dames en om bande te bou wat lank na koshuis nog sterk sal staan. Om die leeu-trots en passie waarvoor ons staan, uit te leef en vir almal te wys dat al is Klaradyn (nadat ons Roosmaryn verloor het) een van die kleinste koshuise, ons steeds van die gevaarlikste kompetisie is!