Die Kardashians, Paris Hilton en Jessica Simpson is name wat wêreldwyd dadelik herken word. Hierdie beroemde mense lag al die pad bank…
MAGDALEEN SNYMAN
Die Kardashians, Paris Hilton en Jessica Simpson is name wat wêreldwyd dadelik herken word. Hierdie beroemde mense lag al die pad bank toe omdat hulle ryk geword het deur amper niks te doen nie. Alles te danke aan die fenomeen van realiteit-TV programme. Hierdie week kyk Perdeby na `n paar van die beste, slegste en mees buitengewone realitiet-reekse van die afgelope dekade.
Beste
Survivor (die Amerikaanse weergawe) is `n reeks waar deelnemers in die wildernis moet oorleef terwyl hulle teen mekaar kompeteer met sekere take. Daar word elke week iemand uitgestem en die persoon wat laaste oorbly wen `n miljoen dollar. Die reeks het kykers aan die kassie vasgenael gehad en wie die wenner is (wat reeds bekend is in Amerika teen die tyd wat die reeks in Suid-Afrika uitgesaai word) word soos `n staatsgeheim bewaar tot die laaste episode. Claudi Mailovich, `n tweedejaar joernalistiek student, sal aan dié reeks wil deelneem “om terug te keer tot `n wêreld waar manipulasie koning is.” Verder het sy gesê: “Mense sal altyd na ander mense wil kyk, ons put wetend of onwetend perverse genot daaruit om na mense te kyk sonder dat hulle ge-airbrush of ge-script is.” Volgens eerstejaar multimedia student, Jeandre Dednam, sal hy graag op The Amazing Race, wat ook deur die vervaardigers van Survivor gemaak is, wil wees. “Ek sien [dan] die wêreld enkan dalk `n miljoen dollar wen!”
So You Think You Can Dance is in 2005 vir die eerste keer uitgesaai en gaan vandag van krag tot krag. Deelnemers van reg oor die land doen oudisies en die bestes gaan deur na die program waar hulle elke week uitgedaag word om `n dans in `n nuwe styl by `n nuwe choreograaf te leer en dan op te voer. Dansers se vernuf en deursettingsvermoë word tot die uiterste getoets en sorg vir `n geïnspireerde gehoor by die huis.
Slegste
Bridalplasty is `n reeks waar twaalf verloofde vrouens meeding om die troue van hulle drome te wen. Terwyl hulle in verskeie take getoets word, wen iemand ook elke week die plastiese sjirurgie operasie van hulle keuse. Die bruide met die laagste puntetellings na die take word uitgestem deur die ander. Die reeks is deur kritici in Amerika oppervlakkig, katterig en as swak smaak bestempel.
Temptation Island is `n reeks waar paartjies saam met `n klomp enkellopers op `n tropiese eiland gestrand word. Die idee is dan dat die enkellopende lede die paartjies probeer verlei om vas te stel hoe sterk hulle verhoudings werklik is. Die reeks het egter nie lank gehou nie, omdat meeste mense nie hulle verhouding deur so iets wou sit nie en omdat kykers dit as immoreel beskou het.
The Littlelest Groom van FoxTV het menseregte organisasies op hol gehad nadat hulle `n man wat ongeveer vier voet vyf is in `n The Bachelor-tipe situasie gesit het, saam met `n paar vrouens van dieselfde lengte en dan een “normale” lengte vrou. Die groot vraag was of liefde regtig blind is en die kort man die lang vrou bo die ander sou kies.
Vreemdste
16 and Pregnant is `n reeks op MTV wat beslis nie `n paar dekades gelede so populêr sou gewees het soos wat dit vandag is nie. Die reeks volg `n verskeidenheid meisies wat op 16 swanger geword het en gee die kyker verskillende perspektiewe op hoe mense deur so `n geval geraak word. Dit wys die moeilike besluite wat die meisies moet maak asook hoe hulle lewens geaffekteer word na die geboorte van hulle babas.
Solitary is `n sosiale eksperiment waar deelnemers tot die uiterste getoets word terwyl hulle stoksielalleen in `n “pod” bly met net `n stem wat elke nou en dan vir hulle opdragte gee. Die deelnemers word fisies en psigies beproef deurdat daar byvoorbeeld vir hulle gesê word hulle gaan nou vir agt ure slaap, net om twee ure later wakker gemaak te word. Hulle het geen manier om te weet hoe laat dit is nie en dink dus hulle het `n goeie nagrus agter die blad. Temperatuur, kos en slaaptye word van buite die “pod” af beheer en kykers kry kans om te sien wat met mense gebeur wanneer hulle net hulself het om op staat te maak.
“Ek sal op Minute To Win It wil wees,” sê eerstejaar regte student, Wessel Herbst. “Dit lyk na cool games wat min kos. Perfek vir enige student.” Hy vertel ook dat sekere reekse nog oorspronklik en goed is maar dat Idols se “senutergende wie-is-vanaand-uit-aankondigings” na soveel seisoene nie meer opwinding veroorsaak nie.
Hoe werklik realiteitsreekse is, is debatteerbaar, maar een ding is seker, hulle sorg vir ure se vermaak. Word deel van die fenomeen, en wie weet, jy mag dalk net die volgende Superster, miljoenêr of skoonheidskoningin wees.
Illustrasie: Marius Veldhuyzen van Zaten