JACO JORDAAN
Die gemiddelde mens het soveel leuens oor seks gehoor dat dit `n wonder is dat ons nog daarin kan slaag om voort te plant. Vandeesweek speel Perdeby skeidsregter in die slaapkamer.
RAD!
- Les Dieux du Stade. Sedert die verskyning van Calendar Girls het elke tweede rolbalklub, voëlkykvereniging en koekwinkel (en nou ook ons eie mediese studente) `n naakkalender die lig laat sien, gewoonlik met die verskoning dat dit ten bate van liefdadigheid is. Amateur-ekshibisionisme kan egter nie kers vashou by die meesterlike swart-en-wit foto’s van poedelkaal rugbyspelers wat jaarliks in die Dieux du Stade-kalender (letterlik “gode van die stadion”) verskyn nie. Ooh là là!
- Savage Love. Seksadviesrubrieke bied oor die algemeen dieselfde kombinasie van voyeurisme en leedvermaak wat `n mens teen jou beterwete programme soos MTV se 16 and Pregnant laat kyk. Dan Savage, wie se rubriek Savage Love (www.thestranger.com/seattle/SavageLove) al amper twee dekades lank in die onafhanklike Seattle-koerant The Stranger – en deesdae wêreldwyd – verskyn, se reguit, skreeusnaakse raad oor enigiets van S&M tot ménages à trois is egter nie net vermaaklik nie, maar dikwels sommer leersaam ook.
- It Gets Better Project. Einste Dan Savage het, na aanleiding van `n reeks selfmoorde van tieners wat weens hul seksualiteit by die skool geteister is, die It Gets Better Project geloods. Hierdie videoprojek (www.youtube.com/itgetsbetterproject) het `n eenvoudige boodskap aan gay, lesbiese, bi- en transseksuele tieners: ná die aaklige tyd op skool het hulle die geleentheid om vol, gelukkige lewens te lei. Bly om te sien die Internet kan meer as net Lolcats versprei.
SAD!
- Skynheiligheid. Suid-Afrika het die twyfelagtige eer om bo-aan die lys van Google Trends vir verskeie obsene soekwoorde te wees (Pakistan is voor wat die meer dierlike passies betref). Aangesien ons nie op baie terreine internasionaal kan meeding nie, moet ons seker maar vat wat ons kan kry. Tog was baie van ons maagdelike burgers oortuig dat die bekendstelling van `n kaalkanaal op DSTV die Oordeelsdag sou verhaas. Asof ons nie groter probleme het nie.
- Seksskandale. Heelparty sportsterre en ander openbare figure geniet dit om seks te hê (hetsy teen betaling of nie) met persone anders as hulle huweliksmaats. Die feit dat redakteurs dit nodig ag om hierdie skokkende feit elke paar weke op voorblaaie uit te basuin om meer koerante of tydskrifte te verkoop, is nie juis vleiend vir die media of die publiek nie. In ander nuus: mense is minder aantreklik as wat hulle op die Internet voorgee om te wees.
- Reklameseks. Ja, seks is natuurlik en nie iets om oor skaam te wees nie. Nee, dit beteken nie alles van vloerteëls tot skerpmakers behoort deur halfnaakte meisies en subtiel-soos-`n-tien-pond-hamer seksuele woordspeling geadverteer te word nie. Dis beledigend teenoor vroue én mans. Die mite dat mans elke agt sekondes aan seks dink, is belaglik: hoe kan jy `n ordentlike seksgedagte hê voordat dit tyd is om met die volgende een te begin? En dan nog tussenin aan goed soos skryfbehoeftes dink?
Image: www.stade.fr