MINNETTE NIEUWOUDT
In die eerste Afrikaans weergawe van jou weeklikse kief-fix is die tonge los oor wat nou, nou-nou en net eenvoudig oh no is!
RAD!
- Light bier:
Teen dié tyd behoort jy al te weet: as Jack Parow sê jy is light bier en hy is spirits, bedoel hy eintlik jy kan kalorieë tel en hy nie. Om die waarheid te sê, Perdebytwyfel of Parow kan tel. Punt. Sy bultende middel behoort enige vetvreesende individu af te sit van spirits, witblits, Klippies, Ricky Louw of enige ander vorm van geromantiseerde alkoholiese versnapering. Met light bier hoef jy nie op smaak of alkoholpersentasie te kompromitteer nie.
- Kolwyntjies:
Oftewel cupcakes. Vergeet wat ons sopas van kalorieë gesê het: die son skyn helderder as jy met ‘n stukkie fyngebak in jou hand staan. Perdebywens dat elke dag Kolwyntjiedag was. Hopelik vang die damesliga van die VF+ die skimp. Moet asseblief net nie weer daardie rassis-kolwyntjies van vroeër jare verkoop nie. Dink eerder Katy Perry in “California Gurls”.
- Opskop:
Nie jou studierigting nie. ‘n Opskop. Saam met die lente kom daar weer ‘n hele paar opwindende opskoppe na ons eie Mekka van partytjie-aanbidding. Net laas week het die pelgrimstog na Rag Farm en Harlequin’s met Lentedag vieringe afgeskop. Hierdie week is Vanfokkingtasties weer in ons midde en Perdeby is bly dat dit nie meer te vanfokking-koud is om buite te kuier nie. Halleluja!
SAD!
- Tights sonder broeke:
Moenie dat die naam jou verwar nie – ‘n spanbroek is nie ‘n broek nie! Dit maak nie saak of jy mooi bene of minder mooi boomstompe het nie, jy mag nie tights aantrek as jy nie ‘n broek, rok of hemp wat so lank soos ‘n rok is, bo-oor aanhet nie. En as een van jou vriende vir jou sê dit werk vir jou, weet dat jy daars ‘n verraaier in jou midde. Vir dieselfde rede is broekiekouse ook ietwat misleidend. Weereens: nie ‘n broek nie!
- Facebook status updates:
Niemand wil weet watter verkleinende troetelnaampie jy jou duifie/vleisie/bytjie/apie/skapie noem nie. Die wêreld stel nie in jou vete met jou eks-beste vriend (sedert kleuterskool) belang nie. Net omdat ek jou as vriend op Facebook aanvaar het, beteken nie ek het ‘n toegangskaartjie gekoop na jou sepie-styl drama van ‘n lewe nie. Kry ‘n dagboek. Skryf al jou diep, donker, sinnelose gedagtes daarin. Asseblief.
- Negatiwiteit:
Hierdie een loop hand aan hand met al die stakings. Perdeby kan sweer Hyundai het in hul advertensieveldtog gesê ons moet die gees bring. Goed, dit was nie ‘n baie oortuigende advertensie nie, maar dis die gedagte wat tel. Drie maande gelede het Suid-Afrika trane gepink toe Madiba op sy gholfkarretjie by Soccer City rondgerits het, nou kla almal weer oor die stadia wat leeg staan, salarisverhogings, behuisingstoelae en die onrus in die ANC. Perdeby het raad vir hierdie post-wêreldbeker negatiewe-Neelsies: eet ‘n kolwyntjie.