Propvol sportkalender in 2011

by PDBY Staff | Feb 10, 2011 | Sports

ALBRECHT GEYER

Suid-Afrikaanse sportliefhebbers se sportkalenders gaan propvol wees in 2011, met beide die rugby-en krieketwêredbekers wat vanjaar plaasvind.

Die Springbokke sal hul titel as wêreldkampioene verdedig wanneer die rugbywêreldbeker vanaf 10 September tot 22 Oktober in Nieu-Seeland geskied en die Proteas sal poog om die krieketwêreldbeker vir die eerste keer in hul geskiedenis te wen wanneer die toernooi op 19 Februarie in Bangladesj afskop. Bangladesj, Indië en Sri-Lanka is die drie Suid-Asiatiese gasheerlande wat die krieketwêreldbeker saam sal aanbied.

Suid-Afrika het reeds twee maal die gesogte titel as kampioene van die rugbywêreldbeker gedra, met oorwinnings in onderskeidelik die 1995 en 2007 toernooie. Die Springbokke is egter nie die gunstelinge om weer die William Webb Ellis trofeë omhoog te hou nie en is tweede geloot vir die kompetisie. Die gasheerland, Nieu-Seeland, is eerste geloot en daar is enorme druk op die All Blacks om die wêreldbeker vir die eerste keer sedert 1987 te wen. Suid-Afrika is in groep D saam met Wallis, Fidji, Samoa en Namibië en die Springbokke se eerste kragmeting vind plaas teen Wallis in Wellington op 11 September. Twintig spanne neem deel en die toernooi sal ’n totaal van 48 wedstryde beslaan om die uiteindelike wenner te beklink.

Die krieketwêreldbeker sal die tiende weergawe in die reeks wees en veertien spanne sal aan die kompetisie deelneem. Dit sal die eerste maal wees dat Bangladesj een van die gasheerlande is. Pakistan is sy regte as gasheerland ontneem nadat Sri-Lanka se krieketspan in die Pakistaanse hoofstad, Lahore, deur ’n terroristegroep in 2009 aangeval is.

Australië het die afgelope drie toernooie oorheers met oorwinnings in 1999, 2003 en 2007 en die topspanne gaan mik om die leisels by die Australiërs as die wêreld se suksesvolste eendagspan oor te neem. Die formaat van die toernooi sal dieselfde wees as die een wat in die 2003 krieketwêreldbeker gebruik is, met veertien spanne wat in twee groepe van sewe verdeel is en ’n rondtomtalie tussen mekaar in die onderskeidelike groepe speel. Die top vier spanne van elke groep skuif dan aan na die kwartfinaal. Die Proteas is in groep B saam met Bangladesj, Engeland, Ierland, Indië, Nederland en Wes-Indië en skop hul ternooi af met ’n wedstryd teen Wes-Indië op 24 Februarie in Nieu-Delhi, Indië.

Suid-Afrikaanse sportondersteuners koester ’n ewigdurende hoop dat beide die rugby-en krieketspan die wêredlkampioene in dieselfde jaar kan wees, maar dit gaan ’n yslike poging van albei spanne verg om so heldedaad moontlik te maak.

 

Website | view posts