MARISA BURGER
Tien miljoen vierkante kilometer – dit is die grootte van die berg afval wat onlangs in die Stille Oseaan gevind is. Dit bestaan grootliks uit plastiek wat nie bio-afbreekbaar is nie en miljoene spesies se dood veroorsaak. Dit blyk dat plastiek in die oseaan tans ses maal meer is as die plankton en dit gooi die aarde se balans omver.
Die wegmaak van alledaagse huishoudelike items deur die individu het `n fenomenale effek op die ekostelsel. Alhoewel Suid-Afrikaners nou nie juis `n bydrae gelewer het tot die berg afval in die Stille Oseaan nie, veroorsaak elke individu se weggooi van materiaal soos plastiek, aluminium en glas steeds probleme soos verhoogde kostes in die afvalbestuursisteem en `n wanbalans in die natuur. Te danke aan die vele groenbeweging organisasies soos Greenpeace, is daar heelwat herwinning-idees wat jy as individu kan volg om te help met die probleem wat die wêreld in die gesig staar.
Perdeby het tien praktiese voorbeelde ontdek wat maklik uitvoerbaar is en sodoende kan jy bydra tot die bekamping van `n oormaat afval.
Kreatiewe gebruike van aluminium en metale
Een van die interessantste herwinning-idees gelys op www.superuse.org is die Clojo projek, geïnspireer deur Henk Stallinga in 1962 waar `n ou, gebuigde draadhanger aangewend is as `n toiletrolhouer. Dit het verhoed dat `n oormaat metaal as afval gestort word. Konfytblikke, aan die ander kant, kan weer `n handige houer word waarin jy jou skryfbehoeftes hou of selfs jou messe en vurke in jou koshuiskamer of die kombuis kan plaas.
Plastiek slimmighede
Studente is bekend daarvoor dat hulle graag wegneemetes koop. Te dikwels beland plastiek eetgerei wat daarmee saam gegee word sommer in die asblik. In plaas daarvan kan dit gewas en weer gebruik word wanneer jy baie kuiergaste en `n tekort aan eetgerei het.
Daar is ook `n paar handige voorbeelde van herwinning-idees wat gelys word op die webblad www.thegoodhuman.com wat heel buitengewoon is, maar tog `n verskil kan maak in die bydrae tot die verbetering van ons omgewing. `n Voorbeeld hiervan is die herwinning van ou filmhouers as sout- en peperpotjies deur slegs gaatjies in die deksels te druk. Dié manier van aanwending spaar jou nie net geld as student nie, maar dra tog by om die omgewingsprobleme op te los. Nog `n kreatiewe manier om te help is deur die aanwending van `n leë herskryfbare CD-houer as `n klein asblikkie op `n lessenaar. Vir diegene wat ongelooflik baie CD’s besit wat reeds op die rekenaar gelaai is, kan die CD-kassies geverf, en as drupmatjies gebruik word vir die vinnige koffie-kuiers tussen klasse.
Verskeie gebruike van papier, glas en kurkproppe
`n Aanwending wat by hierdie koffie-kuiers sal pas, is om ou tydskrifte aan mekaar te heg in `n stewige blok, `n glasblad daarop te plaas en dit as `n koffietafeltjie te gebruik.
Wynbottels is seker een van die meer gewilde items onder studente en jy kan werklik `n verskil maak as jy dit weer gebruik op twee maniere: week die kurkproppe in terpentyn en gebruik dit as vuuraanstekers. Versamel die bottels en wend dit as olielampies aan.
Die kurkproppe kan selfs aan mekaar geheg word teen jou muur en as aansteekbord gebruik word vir belangrike notas. `n Meer praktiese idee is om ou speserybotteltjies te was en suiker daarin te stoor om soggens oor jou graankos te strooi.
Van badkamerkassie na mini bar
Daar is regtig baie idees waarby `n mens en die omgewing tegelykertyd kan baat vind, maar daar is een idee wat soos `n paal bo water op die webblad www.apartmenttherapy.com uitstaan. Dié wenk is om `n ou badkamerkassie aan te wend as `n mini bar. Dit kos jou `n appel en `n ei en gee `n klassieke voorkoms aan jou tuiste. Wie sal nou nie `n mini bar in jou tuiste wil hê nie?
Dit is nie altyd moontlik om deel te wees van `n herwinningskema of `n spesifieke beweging nie, maar deur `n paar van die voorbeelde te volg, help jy in `n mate die omgewing en die volhoubaarheid van lewensbelangrike hulpbronne. Daar is ook `n organisasie in Suid-Afrika waar jy betrokke kan raak en hulp kan verleen. Dit is die Greenpeace-organisasie wat jou nader om inligting te versprei of meer ernstig deel te neem aan veldtogte en die reël van funksies. Indien jy dit oorweeg om hulp aan te bied, gaan gerus na hul webblad www.greenpeace.org vir verdere inligting.
Voor jy weer `n konfytblik of plastiekhouer weggooi deur te dink dat dit nie `n verskil gaan maak nie, herroep die wyse woorde van Edward Everett Hale: “Ek is slegs een, maar ek is darem een. Ek kan nie alles doen nie, maar ek kan iets doen. En ek sal nie toelaat dat dit wat ek nie kan doen nie, in die pad staan van dit wat ek wel kan doen nie.”
www.craftorganic.com