Plagiaat Paaiboelie

by PDBY Staff | Jan 19, 2010 | News

HENALI KUIT

Paaiboelie: selfstandige naamwoord. Iets of iemand wat vrees of ‘n baie negatiewe houding veroorsaak; iets waarmee iemand bang gemaak word herkoms onseker, lui die HAT se verduideliking. ‘n Paaiboelie is, kortom, die teenoorgestelde van Batman. ‘n Villain, as jy dit so wil noem. Hier volg Perdeby wyshede vir ‘n plagiaatvrye eerstejaar.

Eerstens is dit belangrik om te weet met wie jy te doen kry. Die Plagiaat Paaiboelie is ‘n oorgewig, middeljarige booswig wie se oorhare al baie opvallende lengtes bereik het. Hy lyk min of meer soos ‘n Blou Bul-ondersteuner in kantoordrag. Die Plagiaat Paaiboelie se doel in die lewe is om joune te verwoes.

Die meeste slagoffers wat voor die Plagiaat Paaiboelie swik, sal na die tyd ‘n sigaret opsteek, behaaglik sug en iets in die lyn van “dit het o-so-verkeerd, maar o-so-reg gevoel” uiter.

Die Plagiaat Paaiboelie se allemintige superkragte kan hoofsaaklik deur die slim gebruik van aanhalingstekens gefnuik word. Peper die Plagiaat Paaiboelie met aanhalingstekens; dis groen kriptoniet op jou sleutelbord.

In die geval van ‘n numeriese verslag waar aanhalingstekens nie ‘n opsie is nie, probeer die Plagiaat Paaiboelie verwar met bladsynommers wat nie ooreenstem nie. Spring van Romeins na alfa-numeries, na kwasi-Grieks en weer terug na Romeins toe. Die Paaiboelie sal nie weet wat hom tref nie.

Teken stokmannetjies wat in die hoekies van jou taak se bladsye dans. Dít laat die Paaiboelie minderwaardig teenoor jou kreatiwiteit voel en veroorsaak gewoonlik dat hy in sy Lazy Boy met sy neus- en oorhaarskêrtjie vir alleentyd gaan sit.

In desperate gevalle, onthou dat die Plagiaat Paaiboelie, nes die meeste ou mans, ‘n sagte plekkie vir vlesige jong dames het. Plak ‘n volkleur, volblad, vollyf foto van Megan Fox voor op jou literêre analise van A Tale of Two Cities, verander die titel na A Sale of Two Titties en hoop dat jou dosent so meegevoer deur jou oorspronklikheid sal wees dat hy nie eens omblaai nie.

Onthou veral dat die Plagiaat Paaiboelie die ergste vir kennis skrik. Jy loop dalk die gevaar dat jou draadjies, puisies en Twilight-fanatisme uit jou hoërskooldae weer begin blom as jy jou by die reëls hou en mooi na die biblioteektannie gedurende oriënteringsweek luister. Maar dit is alles die moeite werd. Die Paaiboelie vrees ‘n ingeligte bleeksiel soos niks anders nie. As jy weet wat plagiaat is (volgens www.plagiarism.org, “die steel en voorstelling van ander se idees as jou eie”) sal jy dit netjies kan systap. Vereenselwig jou met die universiteit se maatreëls by www.ais.up.ac.za/plagiarism/index.htm en dien die Paaiboelie ‘n doodshou

Website | view posts