Perdeby se top 5 Afrikaanse classics

by PDBY Staff | Feb 28, 2011 | Entertainment

ANDRI NEL

Wanneer die woord “classic” genoem word, is die eerste name wat by jou opkom dié van Dickens, Austen en Shakespeare. Al het jy self nog nie eens enige van hierdie legends se boeke gelees nie, ken jy ten minste een van hul boektitels. Nou is die vraag, hoeveel Afrikaanse classic titels kan jy opnoem, om nie eers te praat van al gelees het nie?

Perdeby het dit op onsself geneem om jou uit `n taai situasie te help en het die top vyf Afrikaanse classics vir jou opgesom. Van hierdie titels sal meeste van julle herken uit jul skooldae, maar daar is tog oues en nuwes wat dalk net jou dormante leesmonster kan laat ontwaak.

Sonde Met Die Bure en Herrie Op Die Ou Tremspoor – C.J. Langenhoven

Hierdie is by verre die oudste twee boeke op ons lys. Ja, dit is twee boeke, maar die een kan nie sonder die ander gelees word nie. Die boeke is onderskeidelik in 1921 en 1925 gepubliseer en vertel die storie van Kerneels, Vroutjie, Engela en hul avonture saam met Herrie, die olifant wat by die sirkus gekoop is en hul trem, of strandhuis, af kus toe. Lesers kan tot vandag toe aanklank vind by Langenhoven se humoristiese benadering tot die wêreld. Hierdie boeke is albei redelik kort en kan dus vinnig gelees word, alhoewel jy steeds sal kan sê dat jy `n literêre werk gelees het.

Magersfontein, O Magersfontein – Etienne le Roux

Le Roux het al twee keer die gesogte Hertzog-prys ingepalm. Magersfontein, O Magersfontein was sy tweede wen in 1979 en dis verseker ook een van Afrikaans se mees opspraakwekkende boeke. Dit speel af in die omgewing van die Slag van Magersfontein wanneer `n oorseese flimmaatskappy dit aandurf om hierdie geskiedkundige gebeurtenis te verfilm. Hulle word onverwags vasgekeer deur die oorstromings van die Riet- en Modderriviere en vandaar begin die storie ontknoop. Die kontroversie van die boek is gegrond op die feit dat daar baie aandag gegee word aan die idee van “korrupsie van die brein”. Dit het ook sterk gefokus op die probleme van die tyd. Vir hierdie rede is die boek met publikasie gedurende die Apartheids-era verban, maar is vandag een van die beste Afrikaanse werke.

Kennis van die Aarde – André P. Brink

Watter lys van Afrikaanse classics sal volmaak wees sonder `n Brink? Kennis van die Aarde was die eerste boek wat in Suid-Afrika verban is in 1975, maar dit is nie die enigste ding wat hierdie boek `n moet-lees maak nie. Dit is al in ses tale vertaal en was ook die eerste Afrikaanse boek wat Kaapse kleurlinge in hul eie Kaapse dialek sien praat het. Dit is nie `n Sondagmiddag lekkerlees-storie nie, maar vertel die storie van swart akteur, Joseph Malan, wat wag om ter dood veroordeel te word vir die moord op sy wit minnares. Daar is geweld, kru taalgebruik, asook seks in die boek en sommige dele is nogal skokkend – vir sy tyd `n deurbraak in die Afrikaanse skryfwêreld.

Kringe in `n Bos – Dalene Matthee

`n Boek wat sommige nooit uit hul koppe sal kry na matriekeindeksamen nie, maar wat meeste baie graag wil. Dalene Matthee se eerste roman is tot dusver die mees suksesvolle Afrikaanse roman ooit gepubliseer. Dit het binne die eerste drie weke 10 000 kopieë verkoop en is al in 11 tale vertaal. Die boek handel oor die boskappers van die voorheen ongerepte Knysna-bos en die olifante met wie hulle die bos deel. Matthee het baie navorsing gedoen vir hierdie boek en haar passie vir Knysna en sy skoonheid kan op elke bladsy ervaar word. Sy het juis hierdie boek geskryf om die waarheid oor die uitsterwing van die Knysna-olifant te vertel, soos sy op die webwerf www.onnet.up.ac.za gesê het. Love it, hate it, Matthee was die moeder van die Afrikaanse roman en haar dood was `n groot verlies vir die genre. Kringe is maar een van vele voorbeelde.

Griet Skryf `n Sprokie – Marita van der Vyfer

Die jongste boek op ons lys, aangesien dit gepubliseer is in die jaar waarin meeste huidige eerstejaars gebore is. Van der Vyfer het Afrikaanse letterkunde holderstebolder verander. Tot en met hierdie tyd het die boeke wat as classics beskou is, meestal uit die groep skrywers genaamd “die Sestigers” gekom; aan die ander kant het van der Vyfer geskryf van `n moderne vrou in `n nuwe Suid-Afrika. Griet Skryf `n Sprokie is die storie van `n pas geskeide vrou wat `n miskraam, aborsie en die dood van haar kind deurmaak en dan deur haar sielkundige aangeraai word om te skryf. Griet is `n universele karakter by wie ons almal kan aanklank vind: sy beeld duidelik die spanning tussen die werklikheid en `n droomwêreld uit. Wie van ons het nie al gewens dat ons van die alledaagse warboel kan ontsnap na `n beter plek toe nie? `n Ware lewensverhaal.

Foto: JP Nathrass

Website | view posts