Party Fest gee Tuks rede om te party

by PDBY Staff | Jan 27, 2010 | Uncategorized

ELAINE SWANEPOEL

 

Wat kry jy as jy ‘n klomp Klaradyners, ‘n paar hansworse en ‘n Fahion TV-venue bymekaargooi? Die partytjie van die jaar.

Klaradyn het met hulle “Carn-evil” tema die ander vyf deelnemende koshuise uitgestof om as wenners van Party Fest uit die stryd te tree.

“Klaradyn het iets heeltemal anders gedoen en hul tema op ‘n manier lewendig gemaak soos wat niemand anders kon nie,” meen Lian Fourie, organiseerder van Party Fest. 

Party Fest, wat laas jaar in Augustus afgeskop het, is die breinkind van Fourie en sy maatskappy Lian Fourie Entertainment CC. Dit het aan ses dameskoshuise die geleentheid gebied om te wys wie die grootste partytjiediere is. Die koshuise is op grond van kreatiwiteit, insette en hoeveelheid partytjiegangers beoordeel. Die wenkoshuis sou dan R10 000 ontvang.

Op 28 Oktober 2009 was dit duidelik dat Klaradyn, Magrietjie en Curlitzia kop aan kop was wat die punte betref het. Die spanning het hoog geloop maar die uitslag was in Klaradyn se guns, met Magrietjie twee punt agter hulle en Curlitzia ‘n skamele een punt agter Magrietjie.

Madelein Roelofse, interne kultuur HK van Klaradyn, sê dat sy vermoed het Klaradyn sal in die top drie wees, maar was bekommerd omdat daar nie soveel mense teenwoordig was by Klaradyn se partytjie as by die naaswenners s’n nie.

Volgens Roelofse het Klaradyn se partytjie slegs R1 000 gekos. Die oorblywende

R9 000 sal onder andere gebruik word vir ‘n splinternuwe kuierkamer in Klaradyn.

Hierdie is egter nie die einde van Party Fest nie. ‘n Mansseisoen waarvan Kiaat, Boekenhout, Taaibos, Olienhout, Olympus, Maroela, Kollege, Sonop en Vividus deel vorm, sal op 3 Februarie afskop. Die launch party word by OppiSquare gehou waartydens demonstrasies gegee sal word van die drinking games waaraan die mans gaan deelneem.

Die wenner van die manskoshuise sal

R30 000 prysgeld ontvang, en nie R10 000 soos met die meisies nie.

Volgens Fourie sal daar ook nog ‘n verdere drie universiteite bykom. “Ek het nog altyd baie groter planne vir die kompetisie gehad en my droom vandat ek opgekom het met die konsep was om dit nasionaal te doen en eendag internasionaal,” sê Fourie. Hy mik dan ook om verskillende universiteite volgende jaar teen mekaar te laat deelneem.

Dit lyk asof die jaar groot dinge vir Tuks se koshuise inhou en dit het beslis niks met akademie te doen nie!

Website | view posts