ELAINE SWANEPOEL
Hoewel Party Fest, die kompetisie om die koshuis met die meeste partytjiegees te vind, al ‘n hele ruk aan die gang is, is die entoesiasme daarom nog groot. Dit lyk asof dit moeilik gaan wees om ‘n uiteindelike wenner te kies.
Kollege het die standaard hoog gestel met uitstekende gees en toe dit by die drinking games kom, het dit gelyk asof niemand hulle sou kon klop nie.
Volgende aan die beurt was Sonop. Alhoewel slegte weer teen hulle getel het, het Sonop, anders as Kollege, baie ondersteuning van die dameskoshuise gekry. Daar moet ook in ag geneem word dat Sonop heelwat kleiner as ander manskoshuise is.
Kiaat het volgens Lian Fourie, organiseerder van Party Fest, die meeste ondersteuning van beide meisies en ouens gekry. Die mans van Kiaat het sonder ophou van 19:00 tot 23:00 die aand op die bankies in OppiSquare gestaan en liedjies sing. “Ek kan verseker sê ek het nog nooit sulke gees iewers anders gesien nie,” sê Fourie. Dit is dan ook Kiaat wat sover voorloop. Madelein Fourie, interne kultuur HK van Klaradyn – laasjaar se wenners – se geld is op Olympus en Kiaat.
Boekenhout het bietjie langer gevat as die ander ouens om aan die gang te kom en toe word die eerstejaars boonop vroeg huis toe gestuur.
Teen druktyd moes nog net Taaibos, Maroela en Vividus deelneem.
Die finaal vind op 12 Mei plaas, waartydens die koshuise in onder andere drinking games teen mekaar gaan kompeteer.
Tuks se mans speel beslis nie speletjies as dit kom by partytjie nie, maar dit bly steeds ‘n raaisel wie uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd sal tree.