Opwindende idees vir paartjies en alleenlopers

by PDBY Staff | Feb 15, 2010 | Entertainment

Valentynsdag laat sommige se harte vinniger klop en ander se bloed kook. Dis amper soos Kersfees met al die liefde en geskenke wat uitgedeel word – maar dis ‘n Kersfees slegs vir paartjies. Wat van die arme alleenloper wat eerder Al Capone se Valentynsdag-slagting wil herleef as om nog ‘n stroperige gediggie te hoor? Perdeby het raad vir beide dié wat nie sonder hulle liefies kan leef nie en dié wat tans liefieloos deur die lewe gaan. Hier volg ‘n paar ongewone dinge wat jy op Valentynsdag – of enige ander dag – kan doen.   

TALITA CALITZ

Paartjies

Is jy en jou maat moeg vir die gebruiklike kersligete en fliek of piekniek hou op ‘n sonskyndag? Hoekom probeer julle nie iets nuuts nie? As julle avontuurlustig is, gaan besoek ‘n kostuumwinkel en huur die buitensporigste uitrustings wat julle kan kry. ‘n Playboy­ ­bunny-kostuum is ideaal vir meisies en ouens behoort mooi manlik in Cowboy-gewaad te lyk.

Gaan kook dan ‘n gourmetmaaltyd by die huis. As jy nie kan kosmaak nie, verlustig jou in die vernedering. Los ‘n slag die romantiese komedies op die rak en neem eerder ‘n ou sci-fi soos Alien of ‘n droë komedie soos Wayne’s World uit.

‘n Goeie wyse om die aand mee af te rond is om vir mekaar ‘n klomp geskenkies te gee. Basta met rose en sjokolade – wees ‘n bietjie oorspronklik. Koop ‘n paar lucky packets – dis goedkoop en die speelgoed is partykeer baie pret. As jy jou te volwasse vir dié idee ag, koop vir jou meisie sexy lingerie. Maar wees versigtig: bly weg van enigiets te risqué wat van swak smaak getuig.

Dit kan moeilik wees om iets vir ouens te kry, maar hy sal dit dalk waardeer as jy hom na ‘n rugby- of krieketwedstryd toe neem – met julle lawwe kostuums aan, natuurlik.

Wat julle ook al besluit om te doen, doen dit met oorgawe en geniet dit.

Alleenlopers

Om op jou eie te wees kan soms eensaam raak, maar daar is tog dinge wat jy kan doen jouself op te beur. Vergeet ‘n slag van al die verliefde paartjies wat droomverlore in mekaar se oë staar en koergeluidjies maak.  Enkellopendheid is iets om te vier! Klim uit die bed uit, sit die sepies af en bêre daardie bak roomys. Gaan uit en geniet ‘n dag heeltemal op jou eie. Dis boonop goedkoper om net vir een te betaal.

Begin deur ‘n lysie op te stel van alles wat jy wil doen. Die regte musiek sal jou in die regte bui sit: koop gerus klassieke versamelings soos The Top 100 80s Hits of lekker soetsappige liefdesliedjies. As jy nie ‘n Celine Dion-aanhanger is nie, is nou die tyd om een te word. Klim in jou kar en speel die musiek so hard as wat jy wil.

Gaan fliek alleen, verkieslik ‘n 3D-rolprent. Daardie lawwe brille sal vir almal wys hoeveel selfvertoue jy het. Om alleen te gaan ysskaats is nog ‘n goeie bewys van onafhanklikheid. As jy val, lag kliphard vir jouself. Die mense rondom jou sal met graagte saamlag.

Moeg vir die selfde ou wegneemetes? Spaar ‘n bietjie en gaan bederf jouself by ‘n peperduur restaurant. Bestel enigiets wat jou hart begeer en moenie bang wees vir poeding nie.

Waag dit om die aand met ‘n sexy uitrusting Square to te gaan. Moenie met enigiemand geselsies aanknoop nie. Gaan bos op die dansvloer – moenie bekommerd wees oor hoe laf jy dink jy lyk nie.

Onthou dat dit dikwels ‘n bedekte seën is om op jou eie te wees. Geniet jou vryheid en raak vertroud met jouself. Dit sal sorg dat jy daardie spesiale iemand se oog vang wanneer die tyd reg is.

Website | view posts