Ontroerende toneel by Woordpoort-fees

by PDBY Staff | Oct 7, 2010 | Entertainment

JACO JORDAAN

Die Departement Drama bied ‘n produksie van Hegter aan as deel van die Woordpoort Kunstefees wat van 6 tot 10 Oktober by die Universiteit van Pretoria plaasvind. Hegter is ‘n Afrikaanse vertaling van die befaamde toneelstuk Closer deur die Britse dramaturg Patrick Marber. André Stolz behartig die regie en die rolverdeling bestaan uit finalejaar dramastudente.

Hegter handel oor die verstrengelde verhoudings van vier karakters wat almal op soek is na liefde, opwinding en betekenis. Die teks draai nie doekies om nie en bied ‘n verfrissend eerlike blik op oorbekende temas soos verleiding en verraad. Dit is ‘n toeganglike, dog ontroerende stuk waarvan die intimiteit by meeste studente aanklank behoort te vind.

Sterk spel deur al die akteurs tesame met puik tegniese ondersteuning sorg dat die emosionele spanning enduit volgehou word. Stolz het die oorspronklike vertaling van Gerben Kamper beduidend aangepas om meer modern te klink. Die resultaat is ‘n oortuigende teks wat gemaklik op die kontemporêre Afrikaanse oor val sonder om die trefkrag van die oospronklike dialoog prys te gee.

Stolz sê hy was van mening dat ‘n klassieke Afrikaanse toneelstuk deur byvoorbeeld Uys Krige (wie in ‘n ander Woordpoort-produksie, Sol Y Sombra met Petru Wessels en Carel Trichardt, vereer word) nie genoeg van ‘n uitdaging vir finalejaarstudente sou bied nie. Hy is dankbaar dat die organiseerders van Woordpoort, wat spesifiek gemik is op die bevordering van Afrikaans as kunstaal, ingestem het tot hierdie toneelstuk wat volgens hom “nie historiese waarde het vir Afrikaans nie, maar wel sosiologiese en sielkundige waarde”.

Hegter is in die Maskerteater te sien van Donderdag 7 Oktober tot Saterdag 9 Oktober om 20:00 met ‘n addisionele opvoering die Saterdagmiddag 15:00. Kaartjies kos R50 vir volwassenes en R40 vir studente en blokbesprekings van meer as 10 persone. Besprekings kan by Marielle Labuschagne (production@postino.up.ac.za of (012) 420-3644) gedoen word.

Die Woordpoort Kunstefeesprogram sluit musiek-, woordkuns- en kinderteaterproduksies in, asook kunsuitstallings en boekbesprekings. Vir meer inligting, besoek www.woordpoort.co.za.

Website | view posts