Onder draai die duiwel romp

by PDBY Staff | Feb 23, 2011 | News

MAGDALEEN SNYMAN

 

Na matriek beleef meeste ouens `n fase waarin hulle hul hare laat groei – partymaal selfs langer as hulle meisie s’n. Meisies kleur hul hare gewoonlik `n onnatuurlike skakering of kry sommer `n blou of pienk highlight in hul kuif. En niemand dink tweekeer daaroor nie want dis alles net nog `n deel van studentwees. Maar indien jy so `n paar jaar terug op kampus geloop het sou die prentjie (en die Perdeby in jou hande) heel anders gelyk het …

As jy in die 1940’s op kampus was, sou jy `n effense tekort aan damestudente gesien het. Die huisvrou-ideologie was nog sterk en die meisies wat wel kom studeer het, het meestal onderwys of huishoudkunde geswot. Hulle was die toonbeeld van vroulikheid in tweestuk gebreide pakkies en wye rompe. Sleutelbene is natuurlik nie gewys nie en enkels was weggesteek onder sykouse. Bets van Beaufort-Wes se gesig sou geraam wees met sagte krulle, maar haar hare was steeds plat op die kop om `n hoed vir kerk te akkommodeer. Mans moes die Pretoria-son in pakke trotseer. Pakke met skouerkussings was beskikbaar in skakerings van swart, blou en bruin. Hare was in Jannie-gaan-Graad-1-toe kantpaadjies gegiet met brylcreem, en as jy regtig rebels was kon jy `n Elvis-krul op jou voorkop gedra het.

Universiteit was die plek waar jy jou lewensmaat by `n bokjol ontmoet het en die Perdeby was vol advertensies vir verloofringe en trourokke. `n Hewige debat is selfs in Perdeby gepubliseer toe `n foto van `n Aster wat op kampus rook in die koerant verskyn het.

Susaar van Steynsburg kon darem in die 60’s haar hare lank dra en `n Franse sigaret op kampus geniet. Sy sou egter gesukkel het om met haar fiets terug te ry koshuis toe, aangesien haar romp tot op haar enkels moes hang. Tie-dye hemde en Bell Bottoms mag dalk mode gewees het, maar was nie skaflike drag vir klas nie. Dames het hoofsaaklik rokke met sykouse en hofskoene gedra. Die Oe-la-la haarstyl was groot, letterlik en figuurlik, met `n middelpaadjie, vol kuif en gekrulde punte. Mans moes Sonop-styl, in pakke met dasse, kampus toe kom, hulle hare moes kort wees en broeke is bo hulle naeldjies vasgemaak.

Toe kom die mini. In vroeë 1970 verskyn daar berigte in Perdeby oor die mini wat “onbehoorlik” is, omdat dit te veel van die dames ontbloot en sal veroorsaak dat hulle begeer word deur mansstudente. Die kledingstuk is verban en al mag vrouens toe broeke kampus toe dra moes hulle dan ook `n baadjie dra wat oor hulle heupe gehang het. So wanneer jy in die somermaande daardie rompie aantrek waarin jy eintlik nie kan sit nie kan jy vir Klaradyn en Asterhof dankie sê dat hulle in protes mini’s aangetrek het en op die ou einde gemaak het dat dit nie meer verban was op kampus nie. 

 Mense het ook ontdek dat jy jou hare kan gaar bak om klein, stywe krulle vir weke te laat hou. Jou ma bloos dalk nou wanneer jy na foto’s van haar studentejare kyk, maar in daardie jare was die Perm so noodsaaklik soos `n GHD vandag is. Mans en vrouens het geometriese patrone gedra, broekspype was styf bo en wyer na onder en die beklemtoonde middel wat vandag weer in die mode is was in. Ongelukkig het die safari-suit sy kop ook in die 70’s uitgesteek en tot vandag toe is hy nog nie behoorlik uitgeroei nie. Daan van Danville sou ook nie uit gevoel het in sy beige en oranje polonek trui nie, want om soos `n skilpad te lyk was baie sexy.

Die 80’s op kampus kon maar net sowel die agtergrond van The Fresh Prince Of Bell-Air se stel gewees het. Neon legwarmers, helder plastiek armbande en selfs kunsleer broeke was `n baie onpraktiese, maar populêre mode. Mans was te sien in stywe broeke en losser hemde. Madonna het modes bepaal en skouerkussings was amper groot genoeg om op te slaap as dit nie vir al die nagemaakte edelstene daarop was nie. Doc Martens het die stilletos van die 50’s plat getrap en was soms gedra by “happy pants” (wye lospassende broeke in helder kleure – baie soos vandag se hippie broeke).

Die 90’s het heeltemal te veel “plumber’s cleavage” gesien met Bell Bottoms wat weer verskyn het, maar om die heupe vasmaak. Die Hawaii hemp word ook hoogmode, maar tensy jy jouself wil kamoefleer as `n tropiese voëlhok is daar geen rede om hierdie item te gaan opgrawe nie. Ongelukkig word corduroy ook belaglik modies en dit is selfs beskikbaar in skakerings soos kersierooi.

Vandag is kampus `n mengelmoes van style en amper enige iets is aanvaarbaar. Selfs Bets, Susaar en Daan sou nie heeltemal uit die mode gewees het nie. Daar is weer invloede van die 50’s en 80’s, maar omdat daar gelukkig geen regulasies ten opsigte van “behoorlike” kleredrag is nie, kan meisies die somer met short-shorts en mans met hulle voete in plakkies klas toe kom. Die verandering oor die jare laat mens egter wonder waarin jou kinders eendag gaan kampus toe kom. Ons kan maar net hoop 2030 is nie die era van speedos op kampus nie.

Images: UP Archive and Desré Barnard

Website | view posts