Die hedendaagse kuns van plastiese chirurgie en die gurus wat dit beoefen raak net al hoe meer ekstremisties met die nuwe maltrap prosedures op die mark.
MIGNON PEENS
Die hedendaagse kuns van plastiese chirurgie en die gurus wat dit beoefen raak net al hoe meer ekstremisties met die nuwe maltrap prosedures op die mark.
Menige mense, soos Hang Mioko wat kookolie in haar gesig ingespuit het toe haar botox opgeraak het, raak verslaaf daaraan om onder die mes te gaan en belemmer sodoende hul hele voorkoms. Die kuns was donkiejare terug heelwat hofliker toe Marilyn Monroe nog die eerste sogenaamde model was. Dit het wel al hoe meer eienaardig geraak,veral as mens modelle soos Lolo Ferrari in ag neem. Sy het `n Guinness wêreldrekord gebreek vir die grootste borste, wat elk 2.8 kilogram weeg. Daar is vandag allerhande plastiese chirurgie prosedures vir omtrent elke liggaamsdeel, en party is eienaardig genoeg om selfs die ingeligtes te verbaas en te verbyster.
Beroemde boude soos J-Lo s’n, het die begeerte by mense aangewakker om hulle agterwêreld op te kikker deur prosedures soos anus-bleiking vir `n onooglike rooi sirkel, `n “butt lift” vir hang-boude en inplantings vir platboude te ondergaan.
Daar is `n sterk aanvraag na gesplete-ken chirurgie om ontslae te raak van die gleuf in jou ken wat bekend staan as die “butt chin”. Vir mense wat nie kans sien vir oefening om hulle maagvette af te skud nie, is abdomina-etching die chirurgiese oplossing. Abdomina-etching is `n prosedure waar vetafsuiging gebruik word om gleuwe in jou vetlaag uit te keep en sodoende die illusie van `n sixpack te skep.
Seksbehepte erotomane ondergaan verskeie onder-die-belt-prosedures. Sodoende word meer plesier tydens seks verskaf en `n aantrekliker geslagtelike voorkoms word bekom deur “vaginoplasty”of penis vergroting, of om`n geslagsverandering te ondergaan.
Jou gesig is nie meer die enigste liggaamsdeel wat gelift kan word nie. Mens kry deesdae `n hele “lifts”-lys van liggaamsdele wat hulle kan lig, soos jou knieë, nek, boude, borste, ore en selfs naeltjies. Regstellende-naeltjie-chirurgie is ook `n opsie indien jou naeltjie uitbult in plaas van inkeep.
Die populêre en welbekende silikon-inplanting vir die vergroting van borste is ook nie meer die enigste inplanting beskikbaar op die mark nie. Mens kry deesdae allerhande kunsmatige spiere wat ingeplant kan word, maarwat geen spierkrag byvoeg nie en heeltemal op voorkoms gebasseer is. Die verskillende soorte spierinplantings is as volg: Maagspiere, boudspier, kuitspier, pektorale borsspier, driekopspier (tricep), deltoïedspier en heupspier-inplantings. Dan is dit selfs moontlik om `n kunsmatige iris-inplanting te kry indien jy nog altyd potblou oë wou gehad het. Die ASAPS (American Society for Aesthetic Plastic Surgery) statistieke stipuleer dat plastiese chirurgie in die afgelope veertien jaar met 88% vir mans en met 164% vir vrouens toegeneem het, en dat die mees populêre prosedures in die bedryf die volgende vyf is: Die vergroting van borste, vetafsuiging, ooglid chirurgie, “abdominoplasty” en die verkleining van borste. Goeie nuus vir vampier-fanatikuste – Twilight-onderklere is nie meer die enigste vampier-handelsware op die mark nie, aangesien ons nou die nuwe “Vampire facelift” tot ons beskikking het, waar hulle jou eie bloed in jou gesig inspuit om plooie te vermy.
Die televisieprogram Sex and the City het blykbaar groot begeertes by hakskoen-liefhebbers gekweek om voet-chirurgie te ondergaan, sodat hulle met gemak in hoë hakke kan pronk. Voet-chirurgie kom voor in verskeie vorme soos die verkorting van tone en die vernouing van `n breë voet. Proteïne of kollageen kan in die bal van jou voet ingespuit word, wat dien as `n ekstra kussinglagie. Vir die perfekte voet kort jy die perfekte dun enkel, daarom gaan meeste voet-chirurgie gepaard met enkel-vetafsuiging.
Perdeby het `n paar Tukkies gaan vra wat hul opinie is oor plastiese chirurgie: Adriaan Bergh, `n vierdejaar Bourekeningkunde student en Mr. Suid-Afrika 2011 sê: “Ek dink regtig dat plastiese chirurgie is `n goeie ding. As jy goed lyk, voel jy goed”. Nicole van Niekerk, `n tweedejaar B.Com Rekeningkunde student het self plastiese chirurgie gehad en sê: “Ek moes `n neusoperasie in hoërskool kry, want ek kon nie meer ruik nie, omdat ek my neus agt keer gebreuk het en nou kan ek ook baie beter asemhaal. Ek voel nie plastiese chirurgie is verkeerd nie, solank jy dit doen vir die regte redes”. Melanie Scheepers, `n eerstejaar Menslikebewegingskunde student, is heeltemal teen plastiese chirurgie, sy sê: “Jou man moet jou maar love nes jy is, want God het jou perfek gemaak.”
Dit word deur kundiges aanbeveel dat `n mens twee keer dink en die risiko’s daaraan verbonde deeglik in ag neem,voordat jy chirugie oorweeg. Jy het nou wel volle beheer oor wat jy aan jou lyf wil doen, maar wees gewaarsku dat daar al menige gevalle was waar mense met hulle hele hart begeer het om `n sekere voorkoms te bekom en dan na die tyd hulle plastiese voorkoms berou het.
Image: Esther van Eeden