HENALI KUIT
“Ek het gedog ek gaan flou word van opwin-ding,” sê Koos Kombuis in sy outobiografie Seks & Drugs & Boeremusiek oor ‘n nuwe tipe musiek wat hy toevallig eendag in ‘n boekwinkel gehoor het. So ook is musiek (saam met seks en dalk drugs) dié aspek van die lewe wat flou-word-van-opwinding vir baie studente kan bewerkstellig. Hierdie week kyk Perdeby hoe jy te werk kan gaan om nuwe musiek te ontdek en te geniet.
Herman Jonker, ‘n derdedejaar wat BCom Rekeningkunde swot, sê dat musiekblogs ‘n goeie manier is om nuwe musiek te ontdek. Die webtuistes www.obscuresound.com en www.epitonic.com is voorbeelde van gewilde blogs wat interessante musiek aan die wêreld voorstel, terwyl www.hypem.com en www.last.fm webwerwe is wat musiekblogs op die internet deursoek en die resultate in kort kunstenaarsketse en aflaaibare mp3’s uitspoeg.
Niel Erasmus, ‘n derdejaar BA Kultuur-geskiedenisstudent, sê dat hy die tydskrifte Q, Rolling Stone en Total Guitar se webwerwe besoek en albums se resensies lees voordat hy besluit om mp3’s af te laai of om CD’s te koop. Ongelukkig rol die stone nie in Suid Afrika nie, maar om plaaslike musiek te ontdek, of te herontdek, is www.acoustic-image.co.za, www.vetseun.co.za en www.underplayd.co.za uitstekende bronne van inligiting oor bekende (en minder bekende) Suid-Afrikaanse musiekmakers.
Die internet is beslis ‘n bron van bemagtiging vir beide die verbruiker en die musikant. Volgens Mail & Guardian se uitgawe van 10 Augustus 2009, gebruik 68% van Britse tieners elke dag hul rekenaar om musiek te luister. Maar, sê die koerant, 61% van dié jong Britte bekom hulle musiek deur kopieregwette te minag. Eweknie-netwerke (peer-to-peer) soos LimeWire of Mp3 Rocket word gebruik om musiek gratis te bekom.
Hierdie oortreding van kopieregwette lei tot groot kommer vir die grootbase in die musiekbedryf, maar dit is juis die nuwe aspek van musiek wat jong kunstenaars opgewonde maak. In 2006 het die Britse groep Arctic Monkeys hul naam in die geskiedenisboeke verewig toe hulle die eerste groep geword het wat wydverspreide gewildheid bereik het deur aflaaibare musiek op die internet te plaas. Hul debuutalbum, Whatever people say I am, that’s what I’m not, het vinniger as enige vorige debuutalbums in Brittanje verkoop. Na dié groep se sukses gebruik jong musikante amper noodwendig sosiale netwerke om hul weg na bo te klou.
Gevestigde musikante gryp ook die geleentheid aan. In 2007 het rocklegendes Radiohead hulle sewende album, In Rainbows, op hulle webtuiste vrygestel. Die groep het geen prys vasgestel nie; liefhebbers kon betaal wat hulle gedink het die musiek werd was.
Met die alombeskikbaarheid van musiek wat boonop niks kos nie, bestaan die gevaar natuurlik dat musikante en verbruikers wat voorheen gedink het hulle liedjies is waardevol en uniek, nou begin voel dat hulle musiek goedkoop is. ‘n Onthutste tatoeëerkunstenaar, met Janis Joplin se gesig in volkleur op haar voorarm, het byvoorbeeld al by Perdeby gekla dat “elke Tom, Dick en Harry nou dink hulle ken Kings of Leon” terwyl sy meen dat hulle eintlik ‘n eksklusiewe en eksentrieke groep is.
As jy regtig musiek wil ontdek wat jy definitief nie twee weke later in ‘n Mr Price-aantrekhokkie sal hoor nie, gooi al jou internet-inhibisies oorboord. Ernstige musiekliefhebbers het nie firewalls nie. Google interessante genre-beskrywings soos “lo-fi”, “riot grrrl”, “shoegazing”, “power pop”, “freak folk” en natuurlik die immer teenwoordige “indie”. Dit hang natuurlik als af van hoe avontuurlustig jy voel. Louis Knoetze, ‘n tweedejaar BA-student, gee dalk die beste advies wanneer dit by musieksoek kom: moenie te veel sweet nie. “Ek ontdek nie nuwe musiek nie; nuwe musiek on