MINNETTE NIEUWOUDT
Hollywood hou van remakes. Die klassieke Amerikaanse riller A Nightmare on Elm Street is alweer terug. Volgens IMDB.com het ons gunsteling kinder-reeksmoordenaar Freddy Krueger vir die eerste keer in 1984 by jongmense begin spook. In die volgende dekade het Freddy in nog ses flieks en ‘n televisiereeks drome aan skerwe gelaat. In 2003 het hy weer sy verskyning gemaak. Die geskende skurk het met Jason Vorhees van die Friday the 13th-reeks in Freddy vs. Jason afgereken. Of het hy? Die dubbelsinnige einde los die gehoor onseker en die agterdeur oop vir nog ‘n opvolg.
In die 2010-weergawe van A Nightmare on Elm Street is Freddy ‘n kindermolesteerder wat sy wraak neem op die tieners van Springwood wat sy misdade blootgelê het. Sodra die jonges droomland binnegaan is hulle in Freddy se wêreld waar hy hulle – werklik – kan vermoor. Quentin Smit (Kye Gallner) en die meisie van sy drome (no pun intended) Nancy Holbrook (Rooney Mara) is die twee wat die stukkies bymekaarsit om Freddy uit te oorlê. Hulle slaag daarin om hom uit kammaland te trek en dan in die werklikheid, waar hy menslike eienskappe het, te vermoor. Of doen hulle?
Ongelukkig het die nuwe skrywers nie dieselfde revolusionêre visie as Wes Craven, wat Freddy vir die eerste keer na die skerm gebring het nie. Die storielyn is voorspelbaar en dit voel asof jy na ‘n heruitsending kyk. Op ‘n positiewe noot is die special effects goed en daar is genoeg bloed om Quentin Tarintino te laat bloos.
Perdeby hoop dat iemand nou finaal met Freddy sal afreken sodat gehore nie deur nog ‘n verskoning van ‘n riller hoef te worstel nie. Mike Meyers van die Halloween-reeks of Chucky van Child’s Play behoort daartoe in staat te wees. (Dis meer as wat Perdeby van Jason Vorhees kan sê.)
Diegene wat hou van sinnelose geweld behoort A Nightmare on Elm Street te geniet. Maak jouself dan gereed vir 2012: nie die belaglike doomsday fliek nie, maar die jaar waarin die opvolgprent vrygestel word.