Net vriende?

by PDBY Staff | Sep 8, 2009 | News

ʼn Ou cliché: ‘n ou en ‘n meisie ontmoet en hulle word baie goeie vriende. Op ‘n dag raak hy verlief op haar. Oor die volgende paar weke bou hy die moed op om dit vir haar te sê. Die groot dag breek aan. Dalk is daar maanlig; dalk is daar rose. Hy kyk diep in haar oë en in ‘n sagte stem verklaar hy sy liefde. Sy is ‘n oomblik stil. Sprakeloos. Na ‘n oomblik van ongemak besef hy: sy voel nie dieselfde nie.

BEYERS DE VOS

ʼn Ou cliché: ‘n ou en ‘n meisie ontmoet en hulle word baie goeie vriende. Op ‘n dag raak hy verlief op haar. Oor die volgende paar weke bou hy die moed op om dit vir haar te sê. Die groot dag breek aan. Dalk is daar maanlig; dalk is daar rose. Hy kyk diep in haar oë en in ‘n sagte stem verklaar hy sy liefde. Sy is ‘n oomblik stil. Sprakeloos. Na ‘n oomblik van ongemak besef hy: sy voel nie dieselfde nie. Sy is vreeslik jammer; hulle moet asseblief hulle vriendskap behou. Ja, stem hy saam. Maar dinge is nooit weer regtig dieselfde nie. ‘n Bekende situasie, of hoe?

So, kan mans en vrouens ooit regtig vriende wees? Blameer die onvermydelike seksuele spanning wat van nature tussen enige twee warmbloedige heteroseksuele mense bestaan. Of die irrasionele jaloesie wat begin spook as jou wederhalf iemand van die ander geslag bevriend. Dalk is dit net doodeenvoudig dat mans en vrouens te verskillend is. Wat ook al die oorsaak, dit blyk dat dit maar baie moeilik is om so ‘n platoniese verhouding te behou. Reg?

Nie as mens na die nuutste navorsing luister nie. Volgens Psychology Today, is dit moeilik, maar doenbaar, en selfs goed vir ‘n mens. Maar, soos met die meeste dinge in die lewe, is daar reëls – sekere voorskrifte wat sal verseker dat die verhouding nie in ingewikkelde omstandighede uitrafel nie.

Die tydskrif sê dat daar drie uitdagings is. Een: definieer die vehouding; maak seker julle weet waar julle met mekaar staan. Twee: bou ‘n brug en kom oor julle aangetrokkenheid vir mekaar. ‘n Mens hoef nie alles op twee bene te bespring nie. Drie: julle is gelyk; in ‘n gesonde vriendskap ontmoet mense mekaar op ‘n gelyke vlak.

Maar wat dink Tukkies hiervan? In ’n tweedejaar Engelse klas luister Perdeby die volgende gesprek af. ’n Paar studente praat stilletjies. Hulle wonder of dit werklik moontlik is vir ouens en meisies om net vriende te wees.

“Nie regtig nie,” sê Liza-Mari Coetsee (BA Joernalistiek).

“Ag, hulle kan man,” val Ryan Joubert (BA Engels), haar in die rede. “Dis heeltemal moontlik.” “Ek stem,” voeg Marielena James (BA Sielkunde), by. “Jy het verhoudings met mense, nie hulle geslag nie. Dit hoef mos nou nie altyd in ‘n romanse te eindig nie. Al het iemand gevoelens, jy konfronteer dit en besluit hoe belangrik die vriendskap is. As dit vir jou iets beteken, kom jy net eenvoudig daaroor.”

Nie almal stem juis hiermee saam nie. ‘n Paar dinge is seker: daar is nie ‘n towerformule nie en dit is nie maklik nie. Maar, erken die meeste studente, as ‘n mens dit kan regkry, is dit heeltemal die moeite werd.

Website | view posts