Net goeie nuus vir Wrestlerish

by PDBY Staff | Apr 28, 2010 | Entertainment

MINNETTE NIEUWOUDT

Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar-faam beskryf Wrestlerish se musiek as die klankbaan vir sy quarter-life crisis. Nogal hoë lof van een van die bekendste liriekskrywers in Suid-Afrika. So, waaroor gaan al die hype?

Wrestlerish se selfvervaardigde debuutalbum, The Rude Mechanical, kan beskryf word as akoestiese pop met ‘n tikkie folk en ‘n knypie onheilspellende sang. Die kwartet klink anders as enigiets wat tans op die rakke hier beskikbaar is.

In ‘n bedryf waar die nuutste neiging elektronies is, is Wrestlerish soos ‘n vars seebriesie. Ook gepas omdat hulle graag marinemetafore in hul lirieke gebruik: “I think we’ve capsized,” “…your ship is sinking fast,” “pulled beneath the ocean…I killed the captain” en nog vele meer. Volgens www.mahala.co.za assosieer Werner Olckers, voorsanger, liriekskrywer en kitaarspeler, die gevoel van verdrink met kommunikasieprobleme. Sy seemetafore spreek van hartseer en neerslagtigheid sonder om treurig te wees. Daar is ‘n teenstelling van betekenisvolle lirieke met catchy opmaat musiek in die styl van The Postal Service, net sonder die elektroniese byklanke.

Die eerste enkelspeler, “Bad News”, kan gratis van Rhythm Records se webtuiste (rythmrecords.co.za) afgelaai word en sy musiekvideo wys al vir ‘n rukkie op MK. Ander liedjies wat beslis ook die luister werd is sluit in: “Oliver Tambourine” – wat tans die rondtes op TuksFM doen – “Sleep” en “Orphans”.

The Rude Mechanical is nie ‘n CD wat jou in ‘n partytjiebui gaan plaas nie. Dit gaan jou ook nie op die tafels van Aandklas dwing nie, maar ten spyte daarvan sal dit jou laat saamsing asof jy vir Idols voordra wanneer jy daardie hook hoor: “Baby, you’re bad news and I don’t trust myself with you.”

Website | view posts