CHRISTIAAN BLIGNAUT
Assupol Tuks 1 en Assupol Tuks 2 het op 15 Maart in die finaal van die NCU 45 Over Knock-out mekaar die stryd aangesê. Dit is die eerste keer in die kompetisie se geskiedenis dat albei spanne in die finaal van Tuks afkomstig is. Al was ‘n Tuks-kampioen verseker het dit nie die twee wedywerende spanne gekeer om voluit te speel nie. ‘n Skielike reënbui het egter die aanwysing van ‘n duidelike wenner verhoed.
Tuks 2 moes eerste kolf en het dit duidelik gemaak dat hulle nie vir Tuks 1 sou terugstaan nie. Earnest Kemm het 97 lopies aangeteken terwyl PJ Moore, ‘n Tuks sportakademie-student van Zimbabwe, ‘n goeie 72 lopies kon aanteken. Ongelukkig wou die weer nie saamspeel nie en op 39 beurte, met die telling op 211/3, moes die spel afgelas word. Met Tuks 1 se boulers wat slegs daarin kon slaag om drie paaltjies te vat en Kemm steeds voor die penne, sou Tuks 2 dalk maklik ‘n totaal van 250 lopies kon haal.
Tuks kan trots wees daarop dat twee van ons spanne die trofee sal deel. Anton Roux, hoofafrigter van Tuks Krieketakademie, glo dat Tuks-krieket baie belofte vir die toekoms toon. Pierre de Bruyn, oud-krieketspeler van die Titans en Dolphins, is aangestel as die nuwe hoofafrigter en sal binnekort by die span aansluit met die oog op volgende jaar se Kampioenetrofee. Met sulke spelers lyk Tuks-krieket se toekoms beslis belowend.
Krieketuitslae
Saterdag 13 Maart 2010
Tuks 1 vs. Villagers 1 – Tuks 1 wen met 8 paaltjies
Tuks 2 vs. Adelaar 1 – Tuks 2 wen met 7 paaltjies
Tuks 3 vs. Villagers 2 – Tuks 3 wen met 5 paaltjies
Tuks 4 vs. Adelaar 2 – Tuks 4 wen met 166 lopies
Tuks 5 vs. Cbc 4 – Tuks 5 verloor met 8 paaltjies
Sondag 14 Maart 2010
Tuks Dames vs. Villagers Dames – Tuks verloor met 4 paaltjies