MIGNON PEENS
Mense argumenteer al meer as tweehonderd jaar oor die eienaardige kuns van hipnose, weens die feit dat nie eers wetenskaplikes kon openbaar hoe `n hipnotiseerder regtig te werk gaan nie.
Die algemene definisie van hipnose is dat die hipnotiseerder direk met jou onderbewussyn kommunikeer. Psigiaters gaan voort om hipnose as volg te beskryf: “`n Toestand van beswyming gekarakteriseer deur uiterse vatbaarheid, ontspanning en `n verskerpte verbeelding.”
Die meerderheid van mense is egter steeds skepties oor die geloofwaardigheid van hipnose, omdat hulle glo dat dit nie moontlik is vir iemand om totaal en al beheer oor jou denke en aksies tekankry deur bloot `n paar woorde te mompel nie.
Die alombekende persepsie van `n onheilspellende hipnotiseerder in `n manelpak met `n bokbaard wat sy sakhorlosie heen en weer swaai tot jy soos `n zombie aan sy lippe hang, is egter nie hoe sake in die moderne wêreld van hipnose staan nie.
Perdeby het die hipnotiseerder Troye Keuvelaar, wat elke Woensdagaand in Hatfield Square `n klomp studente hipnotiseer as deel van sy opvoering, gevra of hy dink dat hipnose gevare inhou vir die mens waarop hy dit toepas. Die eienaardige middeljarige man met `n besonderse gladde bek, het Perdeby verseker dat hipnose geen gevare inhou nie en dat hy niemand teen hul eie wilkan beveel om iets te doen nie.
Die basiese voorvereistes van hipnose is dat die persoon gewillig moet wees, glo dat dit moontlik is, gemaklik moet voel en dat die persoon moet beskik oor die vermoë om totaal en al in `n ontspanne toestand te kom.
Verder het Keuvelaar aan Perdeby gesê: “Ekkan selfs hulle laat glo dat hulle `n ‘joint’ rook en dan sal hulle ‘as high as a kite” voel terwyl hulle niks behalwe lug rook nie. In wese is dit net intense speel-speel, soos kinders maak.”
Alhoewel `n gehipnotiseerde persoon by sy volle bewussyn is, skakel die persoon meeste van die stimuli rondom hom of haar uit. `n Eerstejaar onderwysstudent by Tukkies, Bia Voges, wat by die vertoning gehipnotiseer is het die ervaring beskryf: “Dis asof ek nou net wakker geword het uit iets soos `n dagdroom waarin ek myself verloor het. Ek voel nogal simpel oor als wat ek gedoen het. Ekkannie als onthou nie, maar almal kyk my nou weird aan.”
Daar is sommige bekende tegnieke vir hipnose. Die eerste is om jou oë op `n sakhorlosie te fokus. Die tweede is die snelmetode waar jy vinnig en sterk beveel word deur die hipnotiseerder, gewoonlik voor `n gehoor wat jou gevolglik meer vatbaar maak, mits jy opdragte gegee word deur `n oortuigende hipnotis. Verder is daar die vooruitstrewende beeldspraak metode, wat oor die algemeen gepraktiseer word deur psigiaters om `n volkome ontspanne en gefokusde toestand te bekom. Laastenskanjy in `n hipnotiese toestand verval deur `n sensasie wat ontstaan met die verlies van jou balans, wat meegebring word deur ritmiese bewegings. Dus het die wiegie ontstaan sodat ma’s hulle babas in droomland inkanwieg.
Milton Erickson, een van die bekendste hipnotiseerders van ons eeu, reken dat mense hulself hipnotiseer op `n daaglikse basis. Indien `n hipnotiseerder vir jou sê dat jou tong geswel is, sal jy gevolglik die pynlike sensasie voel in jou mond en selfs swaar begin praat, omdat jy die hipnotiseerder se bevele aanvaar en ervaar as realiteit.
Daar is deesdae selfs Hipnoterapeute, wat te werk gaan deur allerhande verstandelike abnormaliteite te behandel. Perdeby het met Cayleen Marais gepraat, wat tans `n eerstejaar BA Engels student is. Sy het `n kursus in hipnoterapie gevolg voor sy `n Tuksstudent geword het. “Ek het deur die American Board of Neuro Linguistic Programming, Timeline Therapy and Hypnotherapy gestudeer. `n Interessante kant van hipnoterapie wat jy dalk nie van ander gesien het nie, is dat mens deur NLP saam met hipnoterapie uit te voer, in noodgevalle kan gebruik kan om mense te hipnotiseer wat in `n ongeluk betrokke was sodat hulle in `n ontspanne toestand kan wees en nie verdere beserings kan opdoen nie en erge bloeding kan stop. Ekkan letterlik `n mens daarvan red om dood te bloei.”
Hipnose word, onder andere, gebruik om mense te help met gewigverlies, om op te hou rook en om depressie, konsentrasie en geheue te verbeter. Psigiaters gebruik ook hipnose om die oorsaak van depressie te vind, deur om trauma deur verskillende ouderdomme en gebeurtenisse in jou verlede te herroep wat jy niekanonthou nie, maar steeds bestaan in jou onderbewussyn.
Wanneer `n mens wakker is evalueer jou bewussyn al jou denke, sit party van hulle in aksie, prosesseer nuwe inligting en skakel dit oor na jou onderbewussyn toe. Psigiaters vermoed dat `n diep gefokusde en ontspanne hipnotiese toestandkanveroorsaak dat jou bewussyn traumatiese ondervindings `n kleiner rol in jou denkproses laat speel aangesien jou onderbewussyn eintlik meeste van die dinkwerk doen. Sodoende stel dit die psigiater of sielkundige in staat om direk met jou onderbewussyn te werk wat terapie meer effektief maak. Amper asof hipnose die “control panel” in jou brein oop maak.
Skepties of nie, dit is deur die jare bewys dat daar tog `n plek vir hipnose in die moderne sielkunde is.
Illustrasie: Gustav Reyneke