STEPHANIE KRUGER
Op 7 September is die tradisionele pre-spring partytjie by Tuks se manskoshuise gehou en koshuisstudente het in hul massas opgedaag.
Boekenhout se lumo-en-foam partytjie het vele studente gelok. Studente in wit hemde vol verf en skuim het oral rondgehardloop.
Taaibos se skuimpartytjie het heel goed by hul “Shipwrecked”-tema gepas. Hul klubhuis is ook vir die geleentheid volgens die tema versier. Groot “Shipwrecked”-borde en lewensredders wat gereed staan om enigiemand te red wat dalk in die skuim sou verdrink, was volop.
Kollege het soos altyd ? groot klomp mense gelok met hul “End of the World”-partytjie. Met drie verskillende dansvloere, elk met sy eie musiek styl, was daar iets vir almal.
Olienhout se klubhuis het die meeste studente gelok met goeie musiek en ‘n lekker atmosfeer. Hul klubhuispersoneel het ook ‘n goeie indruk gelaat deur die hordes dors studente blitsig te help.
Mopanie het weer soos verlede jaar gespog met hul eie live band, bestaande uit lede van Mopanie self.
Die pret is vroeg kortgeknip met ‘n opdrag van Tuks dat klubhuise slegs tot 23:00 oop mag wees, maar met sprake dat geen pre-sping partytjies toegelaat sou word nie, was studente maar net te bly dat hul enigsins kon kuier.
Enkele brawe siele het nog kans gesien vir die Square, maar ander het gaan aansterk vir die groter feestelikhede die volgende dag. Wat is Lentedag dan nou sonder ‘n partytjie?
Foto’s: Gerhard Louw