ELAINE SWANEPOEL
Vir sommige van ons is die partytjie voor Lentedag groter as die kuier op die dag self. Dit was weer die geval toe Tuks se manskoshuise op 8 September reggemaak het om die partytjie van die jaar te gooi. Alles van skuimmasjiene tot verhitte swembaddens is ingespan om te verseker dat die meisies hulself gate uit geniet. Dit was moeilik om te besluit wie se partytjie die grootste was.
Huis Mopanie se eie band, Gepetto and the moon units, wat hoofsaaklik uit tweedejaars van dié koshuis bestaan, het gaste vanaf Mopanie se dak vermaak. Met Mopanie se berugte Melktertjie-shooters – ‘n mengsel van vodka, kondensmelk en kaneel teen R3 elk – was dit byna onmoontlik om uit die klubhuis te bly. Teen 22:00 was daar nie meer plek vir ‘n muis nie.
Taaibos het hulle eie verhitte swembad aanmekaar geslaan en met gratis punch vir die meisies het hulle verseker dat hul kuierplek heelaand stampvol bly. Taaibos was egter só gewild dat al hul drank teen 22:30 uitverkoop was. Mauritz de Bruin, sosiale HK van Taaibos, sê dat daar sowat 600 liter punch uitgedeel en 700 liter verkoop is. De Bruin sê ook dat hulle dié aand dubbeld soveel drank as in vorige jare verkoop het.
By Boekenhout is partytjiegangers eers met verf bespuit voordat hulle die skuim onder neonligte aangedurf het. Die kombinasie van verf, skuim en ligte het hierdie partytjie veral gewild gemaak. Weens die rugby het Maroela se klubhuis eers heelwat later as die res oopgemaak. Hul oorwinning teen Onderstepoort het egter vir ‘n jolige atmosfeer gesorg en almal het lekker gekuier.
Voortrekker het verseker dat die meisies hulle nie afskeep nie deur die band Glaskas vir die aand te reël. Goedkoop punch en ‘n “Mejuffrou Voortrekker”-kompetisie het verder tot ‘n suksesvolle aand bygedra.
Selfs gerugte dat die polisie in die geheim klubhuise fyn sou dophou het nie die feesvieringe gedemp nie. Hierdie polisiemanne was op die uitkyk vir enige klubhuis wat drank aan ‘n persoon wat alreeds dronk is, verkoop. Tuks sou dan die betrokke klubhuis vir ses maande sluit. Die aand het egter sonder voorval verloop en die sosiale HK’s kon teen middernag hul klubhuise met geruste harte sluit. ‘n Suksesvolle inleiding tot ‘n opwindende Lentedag.