CHRIS VAN DER MERWE
Dit maak nie saak of dit jou eerste jaar in Pretoria is en of jy al jare, met trots, jouself `n Pretorianer noem nie, een ding is verseker – Pretoria is nie soos enige ander plek wat jy al ooit besoek het nie. Pretoria is die tuiste van soveel van Suid-Afrika se merkwaardigste landmerke, byvoorbeeld die Universiteit van Pretoria en die Uniegebou, net om `n paar te noem. Met dit in gedagte, kan Perdeby verstaan dat dit maklik is om geïntimideerd en verlore te voel in die ontsaglikheid van Pretoria en omdat Perdeby daarop uit is om jou beste vriend te wees, kyk ons vandeesweek na wat elke eerstejaar van Pretoria móét weet.
DIE UNIVERSITEIT VAN PRETORIA
Goed, die saak staan so – of jy nou op die hoofkampus klas draf of by een van die ander kampusse – dit bly die plek waar jy die meeste van jou tyd gaan bestee. Van take doen met `n groep studente met wie jy nog nooit in jou lewe gepraat het en absoluut niks mee in gemeen het nie, tot laatnag leersessies in die biblioteek die aand voor `n groot semestertoets. Jy moet maar vinnig vrede maak daarmee dat jy en Tuks mekaar baie goed gaan leer ken in die nabye toekoms. Daarom het Perdeby dit goedgedink om vir jou `n paar riglyne te gee rakende Tuks se hoofkampus.
Die AE du Toit Ouditorium
Daar gaan meer as net `n paar ouer studente met die aanvang van `n doodeenvoudige vraag soos, “Waar is die Te Water Saal?,” jou in die rigting van die berugte AE du Toit Ouditorium stuur. `n Paar feite rakende die AE du Toit Oudit: Dit is geleë op die verste punt van kampus, dis groot en dis koud. Daar is wél `n kans dat jy `n paar klasse hier sal hê.
Fego
Kom ons wees eerlik, ons almal het al na `n koffie of twee gegryp as die oë bietjie begin hang te midde van `n intense leersessie. Vir dié van julle wat nog nie in so `n posisie geplaas is nie, moet nie bekommer nie, die universiteit sal seker maak dat jy blitsvinnig die geleentheid gegee word. Gelukkig vir al die Tuks-studente, is daar Fego. Fego is menig `n student se go-to plek vir `n vinnige koffie of espresso om die siel wakker te maak en wakker te hou vir `n ekstra paar ure. Maak gerus `n draai by Fego (geleë op die Piazza), al is Perdeby seker daarvan dat jy in elk geval een of ander tyd daar gaan opeindig.
Jottirs
Perdeby weet dat sodra die see van polistireen hoede – gesien aan die hoofde van verskeie trotse Madelief eerstejaars – Tuks se hoofkampus tref, borrel die begeerte om een te steel in omtrent elke eerstejaar-man. Perdeby was ook al daar. Neem die raad ter harte: maak eers doodseker dat daar nie `n Mopanie eerstejaar (hulle word knolle genoem) soos `n wafferse lyfwag homself in die onmiddellike omgewing bevind nie.
Hoe laat Oom Gert’s eintlik oopmaak
Laat Perdeby jou baie teleurstelling spaar, sommer so op die aanvang. Oom Gert se Kuierplek maak tegnies 10:00 oop, maar die kroeg maak eers 12:00 oop. Dit is baie maklik om dit te verwar, dié dat daar feitlik ten alle tye van die dag mense by Oom Gert se Kuierplek gesien word. Perdeby kan terugdink aan die eerste keer toe ons vroeg in die môre by Oom Gert se Kuierplek aangekom het en van die hand gewys is toe ons, al te gretig, `n bier probeer bestel het. Moet nie in dieselfde strik val nie.
HATFIELD PLAZA
As mens dink aan `n plek om inkopies te doen in Pretoria, dink meeste mense net aan Menlyn. Die waarheid is dat dit nie altyd nodig is om al die pad Menlyn toe te ry nie. Tree in Hatfield Plaza. Alles wat `n student moontlik kan nodig hê, en nog meer, is te vinde by Hatfield Plaza. Die winkels in Hatfield Plaza sluit in onder andere Jay-Jays, Waltons en Cardies. Van kruideniersware tot skryfbehoeftes tot tatoeëermerke kan gekry word binne `n paar meter van Tuks se hoofkampus af. Die vraag is, wat bied Hatfield Plaza vir die gewone student?
Pick `n Pay
Maak nie saak waarna jy opsoek is nie, kanse is jy sal dit in Pick `n Pay kry. Van die goedkoopste sigarette tot kruideniersware teen `n billike prys is te vinde binne Pick ? Pay se vier mure. Vir dié van julle wat nog nie oortuig is nie, hier is, in Perdeby se opinie, die kersie op die koek: Sou jy nou besluit om Hatfield Plaza toe te bestuur en jy besluit selfs om binne-in die sentrum se parkeerarea te parkeer. As jy enigiets – en met enigiets bedoel ons regtig enigiets – koop by Pick `n Pay, betaal hulle jou parkeerkaartjie vir jou. Nogsteeds nie oortuig nie?
Nu Metro Woensdae
Kom ons draai nou nie doekies om nie, almal van ons is elke nou en dan in die bui vir `n fliek. Dit is hier waar Nu Metro inkom. Op `n gewone dag vertoon Nu Metro die nuutste flieks alreeds teen `n billike prys, maar op Woensdae word dieselfde flieks vir slegs R15 per persoon vertoon. Perdeby weet, die fliek-liefhebbende mensie binne jou spring nou op en af met vreugde, of hoe?
Absurd
As jy een van die meer musiekgedrewe studente is, het Hatfield Plaza nét die winkel vir jou. Absurd hou alles aan wat ? rock-aanhanger moontlik kan begeer. Van band T-hemde tot musiekplakkate tot skoene kan gekoop word by hierdie fantastiese winkel. Daar is nie baie studente wat weet van hierdie winkel nie, aangesien hy reg aan die einde van Hatfield Plaza geleë is. As die geluid van harde kitaar melodieë gepaardgaande met die selfs harder ritme van basdromme jou hart laat vinniger klop, maak gerus ? draai by Absurd.
LOFTUS VERSVELD
Pretoria is die tuiste van die verruklike en alombekende Loftus Versveld, die huis van die Vodacom Blou Bulle. Vir diegene van julle wat nie weet wat Loftus Versveld is en wat dit verteenwoordig nie, maak blitsvinnig `n plan om dit te verander. Die strate van Pretoria word gereeld op Saterdae gepak met ondersteuners geklee in blou, elkeen met `n stywe brandewyn en Coke in hul hand. Daar is egter `n paar dinge wat jy moet weet rakende Loftus Versveld en eintlik rugby oor die algemeen in Pretoria, naamlik:
Studente kaartjies
Dit is reg ja, studente kry afslag op rugby-kaartjies. R10 koop vir jou `n plek reg agter die pale. Dit mag dalk nou nie die beste plek in Loftus wees nie, maar is mens regtig in `n posisie om te kla teen so `n prys? Perdeby het nie so gedink nie.
Trademarx
Trademarx, geleë reg langs Loftus Versveld, kan gekenmerk word deur die verskeie Blou Bul-spelers wat saans daar te siene is, die dansmusiek en Trademarx se studente-aande op Dinsdae. Trademarx is werklik `n plek om te beleef en een van die beste plekke om te gaan kuier na `n harde Blou Bul wedstryd (dit is te sê as jy nie omgee om letterlik skouer-teen-skouer te staan en moontlik `n uur te wag om ? drankie te koop nie).
HATFIELD SQUARE (sien bl. 18)
Hierdie deel van die gids is meer gerig op dié van julle wat nie in `n koshuis is nie, oftewel dié van julle wat braaf genoeg is om teen jou HK se opdragte te rebelleer. As jy nie weet wat Hatfield Square is nie, wees gerus dat jy binnekort kennis gaan maak met hom in al sy glorie. As daar een ding is wat Perdeby geleer het uit die verlede, is dit dat alle paaie na Hatfield Square toe lei. Of jy `n rustige braai hou by jou woonstel of `n kuier wat die byle sal laat huil, gaan jy heel moontlik opeindig in die glorieryke Hatfield Square. Die enigste manier om Hatfield Square te leer ken, is om uit te gaan en dit vir jouself te ondervind. Net om jou op die regte pad te sit, is hier `n paar goed wat jy moet weet.
Die verskeie spesiale aanbiedinge
Die vanselfsprekende is onvermydelik – ons is almal studente, dus is meeste van ons bietjie kort op geld. Vir daardie rede is Hatfield Square die tuiste van verskeie spesiale aanbiedinge. Byvoorbeeld die brandewyn-special by Oppi-Square tussen 13:00 en 19:00, waar jy twee kry vir die prys van een. By Aandklas se Rock-Thursdayskan jy twee drankies kry vir die prys van een tussen 20:00 en 21:00 en daarna betaal jy slegs R10 vir enige drankie. Cheeky Monkey het ook `n cocktail aanbieding waar jy tussen 15:00 tot 18:00 twee cocktails kan kry vir die prys van een. Vat die van Perdeby af , Hatfield Square sorg vir billike aanbiedinge en dit sal mos nou ongeskik wees om `n gegewe perd so in die bek te kyk.
Vasvra-aande in Aandklas
Soos die Latynse gesegde lui, in vino veritas, wat losweg vertaal kan word as “daar is waarheid in wyn”. Die mense van Aandklas het hierdie gesegde na `n hele nuwe vlak geneem met hulle weeklikse vasvra-aande. Op Woensdae-aande kan die stoom uit sommige mense se ore duidelik opgemerk word in Aandklas. `n Verskeie reeks onderwerpe word gedek, wat strek van algemene kennisvrae tot musiekvrae. Met `n R300 beloning in die vorm van alkohol op die spel is, dit verseker die dink werd.
Hatfield Square as gasheer van menige gebeurtenisse
Hatfield Square is nie nét `n plek waar mense bymekaar kan kom vir ? lekker jol nie, Hatfield Square het al gasheer gespeel vir menige ander gebeurtenisse. `n Paar voorbeelde sluit onder andere in: VanFokkingTasties, Vredefest, die Tuks Jool afterparty en daar was selfs al `n FMX vertoning binne-in Hatfield Square se vier hoeke gehou.
VERBODE FRASES
Hier in Pretoria, oftewel, eerder by die Universiteit van Pretoria, ontsnap daar gereeld sinne uit studente se monde wat nie presies ter harte geneem kan word nie. Om te keer dat jy jouself en jou vriende probeer bluf, het Perdeby `n lys van verbode frases saamgestel.
“Ons gaan net vir een dop”
Regtigwaar, bly dit ooit net by een? Hierdie einste sin word meer gebruik om iemand te oortuig om uit te gaan as wat dit gebruik word om die waarheid te bevorder.
“Ek sal môre na al my klasse toe gaan”
Moet nie in `n posisie opeindig waar jy jouself bluf net om `n verskoning te hê om nie klas toe te gaan nie. Hierdie tipe dinge het die nare gewoonte om jou van agteraf in te haal.
“Ek sal in die volgende toets beter doen”
Tensy jy gelukkig genoeg is om die toekoms te kan voorspel, is jy glad nie van daardie uitlating verseker nie. Vir diegene wat nie geweet het nie, nie elke toets handel oor dieselfde werk nie.
“Ek soek ook nie ? verhouding nie”
Dit het sekerlik al met die beste van ons gebeur. Tydens `n “goeie tyd” met `n sekere iemand anders, laat sak Murphy sy hamer met `n stink spoed en die sekere iemand anders bring die onderwerp van verhoudings op. Daar word konsensus bereik dat `n verhouding buite die kwessie is, minwetende dat daardie sekere iemand anders een ding gehoor het en `n ander ding verstaan het.
Enige iets rakende geloof en politiek as daar drank betrokke is
Die saak staan so, jy mag dalk dink jy het die wêreld se kennis in die bodem van `n bierbottel gevind, maar ongelukkig is jy die enigste een wat so dink. Daar is `n tyd en `n plek vir alles. Te midde van `n goeie kuier is nié die tyd of plek om jou wyngevonde wysheid met ander te deel nie.
As daar een ding is wat Perdeby seker van is, is dit dat Pretoria werklik `n onvergeetlike plek is. Dit is by hierdie einste plek waar Perdeby baie gelag en baie gehuil het, maar tog so baie goeie tye gehad het met al die nuwe vriende wat ons deur die jare gemaak het. Perdeby is seker daarvan dat julle sal vind dat Pretoria, alhoewel `n aanpassing, die tuiste van so baie van die beste tye van julle lewens sal wees. Al wat nou oorbly om te doen is om op te hou om weg te kruip in julle veilige, snoesige kamers en uit te gaan om al Pretoria se plesiere eerstehands te gaan ervaar.
Illustrations: Waldemar van Wyk