`n Alternatiewe aand uit

by PDBY Staff | Jan 31, 2012 | Entertainment

CHRIS VAN DER MERWE

Vergeet van Hatfield Square, vergeet van Trademarx en vergeet van Safari’s. Perdeby weet presies hoe jy voel – as flitsende ligte en rave deuntjies nie jou verbeelding prikkel nie, waarheen gaan mens? Aangesien Perdeby aan die hoof van alles verruklik staan (soos wat jy nog sal agterkom), stel ons aan jou `n paar alternatiewe kuierplekke vir die alternatiewe student in jou voor.

Pan Dora Art House

Geleë te Bereastraat 621, is Pan Dora Kuns Huis verseker `n plek om te besoek. Slegs sy geskiedenis maak dit al `n fassinerende plek wat verdere verkenning vereis. Die tipe uitstallings wat daar gehou word is iets om te beleef. Daar word ook verskeie musiekvertonings gehou, alhoewel die tipe musiek baie niche is. As jou lewe om plaaslike kuns en musiek wentel, gaan Pan Dora jou nuwe tuiste word. Al is kuns nie jou ding nie, moet die plek tog nie heeltemaal afskeep tot jy jouself nie binne sy vier mure verloor het nie.

Fried Contemporary Gallery

Brooklyn is vol klein kunsgallerye. Glo ons nie? Ry gerus deur Brooklyn en sien vir jouself. Een wat uitstaan is Fried Contemporary Gallery. Wat is die verskil tussen hierdie gallery en Pan Dora? Hierdie gallery het `n effens meer professionele gevoel en daar word verskeie kunsklasse (met van die beste plaaslike kunstenaars) dwarsdeur die jaar aangebied. Tussen Fried Contemporary Gallery en Pan Dora het jy nie `n verskoning om nie jou kuns fix te kry terwyl jy in Pretoria is nie.

Detour

Detour is een van daardie plekke wat `n bietjie meer “ekslusief” is as ander kuierplekke in Pretoria. Geken as die beste gay kroeg in die Pretoria-area, sorg Detour definitief vir `n onvergeetlike aand uit. Vind jy Hatfield Square se dansbane bietjie te homofobies? Moenie nog `n verdere minuut daar mors nie. Daar is altyd iets aan die gang by Detour. Alles van karaoke tot drag shows word hier gevind . Hierdie kroeg kan gevind word op Rubenstein Rylaan 680, Moreleta Park. So toe nou, weg is julle.

Klitsgras Drumming Circle

As jy nog nooit van `n dromsirkel gehoor het nie, is daar net-net hoop vir jou. Eintlik, moet nie eers verder lees nie … Klim net in jou kar en gaan vind onmiddelik uit. In elk geval, Klitsgras Drumming Circle is moontlik die meeste pret wat mens kan hê in een groot sirkel. Klitsgras is beslis `n plek wat jy moet besoek en is geleë in Garsfontein. Hulle is elke tweede Vrydag oop en die toegangskoste is R35 sonder `n instrument en R30 as jy een saambring. As jy een van daardie mense is wat daarvan hou om net rustig te wees met `n vuur voor jou en indrukwekkende musiek om jou, dan is Klitsgras die plek vir jou.

Moloko

Ons sluit hierdie gids af met `n effens meer spoggerige plek. Moloko is geleë op Duncanstraat (jy kan dit regtig nie mis nie), en om te sê dit is `n deftige uithangplek is `n onderbeklemtoning. Hierdie is nie `n plek waar elke student homself gaan bevind nie, maar as jy een van daardie gelukkige studente is wat `n Z4 ry en ‘n belaglike klomp sakgeld per week kry, gaan besoek gerus Moloko. Daar is wel `n kleredragkode en `n paar groot menere wat jou goed gaan laat weet as jy nie toegelaat word om Moloko binne te tree nie. Wees ook reg om baie te betaal as jy nou eers binne is. Dit is die perfekte plek om jou meisie heen te vat as jy wil wys dat jy ook die deftige ding kan doen.

Foto: Esther van Eeden

Website | view posts