NATASHIA HUDSON
Die Vredefest Elektro versamelingsalbum is iewat van ’n lucky packet. Soos die titel aandui, is die hoofgenre van musiek op die album elektro, maar dit is die onverwagse verskeidenheid van verskillende subgenres soos rap, hip-hop, rock en jazz wat egter van hierdie album ‘n verassingspakkie maak.
Vredefest Elektro gaan egter oor meer as om net mense langs die braaivleisvuur te vermaak – dit dien ook ’n baie eerbare doel. Herman Pretorius, wat onder andere op hoërskool saam met Francois van Coke in ’n band gespeel het en ook die laaste paar jaar dieaanbieder van MK AMP was, is in 2008 met kanker gediagnoseer. Die Vrede Foundation, ’n nie-winsmakende organisasie, is toe gestig met die doel om jong Suid-Afrikaners bewus te maak van kanker en om fondse in te samel vir jong kankerlyers wat nie toegang tot mediese fondse het nie.
Die album bevat bekende plaaslike liedjies soos Goldfish se “Fort Knox” en Jax Panik se lighartige “Talking to myself”. Met so ’n line-up klink dit dalk nou eenvoudig om die album netjies te klassifiseer, maar maklik is dit beslis nie. Vredefest Elektro bevat ook liedjies soos Die Antwoord se “Enter the ninja” en Jack Parow se lagwekkende “Cooler as ekke”.
Vir diegene wat nog nie die “voorreg” gehad het om na Afrikaans se nuwe zef-cool Kaptein van die Karavaanpark te luister nie, lui sy lirieke onder andere: “Jy’s die ou met die new, fresh look / ek’s die ou met die Pep Stores-broek / ek drink Klipdrift / Jy drink Peroni / jy’t vriende in Swede / ek’t vriende in Benoni.” Onderwyl poppies in die agtergrond, wat klink of hul eerder in ’n Tropika-advertensie hoort, heeltyd sing: “Jy dink jy’s cooler as ekke!”
Ander snitte op die album wat uitstaan is ’n remix van New Holland se “Something to believe in” en Die Heuwels Fantasties saam met HHP en Soweto Gospel Choir se “Our Heritage”. Met sy heerlike optimistiese ritme kon dit net sowel ’n temalied vir die Sokkerwêreldbeker of Nasionale Braaidag gewees het en dien dit as ’n uitstekende keuse vir die laaste snit van die album.
Op 9 Augustus laasjaar is Herman Pretorius oorlede aan kanker en vriende Hunter Kennedy en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties voltooi toe Vredefest Elektro ter nagedagtenis aan hom. Alle winste van die album gaan aan die Vrede Foundation en so kan Herman se goeie werk onder jong kankerlyers voortgesit word. Hunter en Pierre som dit só op: “Jou nalantenskap sal vir altyd in ons harte en in die werk van die Vrede Foundation voortleef … dis hoe ons hom sal onthou … Vrede, my vriend.”