ANDRI NEL
Vandag kan jy enige tydskrif oopmaak of die TV aanskakel en die nuutste modes is so te sê naby genoeg om aan te raak en dadelik aan te trek. Maar vir die modebehep is dit net nie genoeg nie. So as jy deel is van daardie groepie wat moet weet wat die nuwe seisoen se kleur gaan wees voordat dit nog op die rakke verskyn, dan het Perdeby ietsie net vir jou. Die plek waar jy skerms en skerms vol modes kan kry met net `n klik van jou muis: mode-blogs. Hier is Perdeby se gunsteling Suid-Afrikaanse mode-blogs. Wie weet – na `n loer op die webwerwe mag jy dalk net die nuwe mode-guru op kampus wees.
www.popyacollar.co.za
Seker een van die mees invloedryke Suid-Afrikaanse mode-blogs. Die blogger, La Muse, word daarvoor geken dat sy al menigte opkomende ontwerpers van die naaldwerk-kamervloer af opgetel het tot reg in die kalklig. La Muse is om elke hoek en draai in die strate van Kaapstad en is altyd eerste met die nuutste modes van mode-hoofstede soos Parys en Milaan. Skoon lyne met skakerings van wit en grys en sierskrif gee `n klassieke gevoel aan die blog. Die kategorieë waaruit gekies kan word gee `n nuwe sprankel aan elke dag en alles van helder kleure tot lang rompe word bespreek. As jy die een wil wees wat heel eerste van die nuutste modes weet, is hierdie die blog vir jou.
www.manofcloth.blogspot.com
Om stylvol en in die mode te wees was tot `n paar jaar gelede nog beperk tot die vroulike geslag, maar vandag is dit `n heel ander saak. Man of the Cloth is `n mode-blog opgedra aan ouens, nie dat dit meisies moet afskrik om die blog te besoek nie. Blogger Marco bring die nuutste mansmodes reg van die loopplank af aan elkeen op die internet. Die blog bestaan hoofsaaklik uit foto’s met `n kort beriggie daarby wat nie net die modes beskryf nie, maar ook waarin Marco sy opinie lig. Weereens is daar soveel meer om die lyf van hierdie styl-geïnspireerde blog. Daar is links na artikels oor alles in die wêreld van mode, van Burberry tot `n Wishlist. `n Lekker manier om meer te leer oor die wêreld van mansmodes.
www.safashiongirl.com
`n Blogger wat besig is om baie vinnig vir haarself naam te maak in beide die blogging- en mode-wêreld. Aanbeveel deur La Muse van PopYaCollar om deel te wees van die Chinese uitgawe van Self-tydskrif as een van die meisies van regoor die wêreld wat `n skoen-obsessie het, is Sheri-Lee een om dop te hou. As jy na die foto’s op die blog kyk, sal enige iemand saamstem dat die see van skoene `n goeie voorstelling is van hierdie modekoppie se stylwysheid. Daar is `n lys van waar en wat om te koop om heel bo aan die modeleer te bly en interessante foto’s van Sheri-Lee se doene en late. Daar is nog plek vir verbetering as dit by hierdie blog kom, maar Perdeby dink die evolusie daarvan is definitief een om dop te hou.
www.fakesartorialist.com
“I’m fake, I’m hip and I know it.” Dis die eerste woorde wat jy sien wanneer hierdie blog met sy swart agtergrond en rooi lippe op jou skerm afrol. Snaaks, oordryf en heeltemal nagemaak is die enigste manier om dit te beskryf. Dit kan maklik verwar word met die regte blog The Sartorialist (www.thesartorealist.com), maar kan eerder beskryf word as `n spot-weergawe daarvan, aldus die term “fake”. Die bekendes, hul modes en die grootste name in die bedryf word afgeneem en dan ge-photoshop totdat hulle byna onherkenbaar is, net omdat die Fake Sartorialist kan (soos hy op die blog skryf). Die foto’s wat jy hier teëkom is kreatief en snaaks en sal `n glimlag op enige gesig sit. Definitief nie die ernstigste modes om te volg nie, maar na `n lang dag op kampus is hierdie uitspattige blog amper so goed soos gebraaide marshmallows op die vuur.
Photo: Esther van Eeden