MINNETTE NIEUWOUDT

Hierdie jaar kom Kersfees vroeg vir al die mode-junkies met die bekendstelling van Mix and Match Studio. Hierdie konsep-boutique kombineer mode en kuns om ‘n innoverende inkopie ervaring te skep.

“Ek haat inkopiesentrums,” meen Christal Jacobs, eienaar en modeontwerper van Crowned, asook die brein agter Mix and Match Studio, “dit is so onpersoonlik.” Jacobs breek weg van die Menlyn-mould deur ‘n ou huis in ‘n moderne winkel te omskep. Wanneer jy by Mix and Match Studio instap is dit amper soos om by jou modieuse vriendin se klerekas in te klouter. Dis ‘n avontuur. Jy voel so tuis dat jy jou skoene wil uitskop en ‘n koffietjie drink. Gelukkig kan jy hier teen ‘n skamele R5 per koppie ‘n bietjie boeretroos kry.

Mix and Match Studio huisves vyf klere reekse. Crowned was reeds in Elle South Africa se Februarie 2009 uitgawe. Jacobs beskryf Crowned as “edgy”, nogals gepas weens haar voorliefde vir die skerp Balmain-skouer silhoeët. Hierdie silhoeët word ook gesien in Fashion Under Construction (F.U.C.), ‘n reeks wat baie deur huidige neigings gedryf word. Die organiese katoen reeks, MOT, is speels met fraai bok-patroontjies wat Bambi soos ‘n Wildebees laat lyk. Nooi, deur Terese Meijering, is in Januarie 2010 by Audi se modeweek in Johannesburg bekendgestel. Die ontwerpe is vroulik en sag met ‘n bietjie skop: Meijering is besig om die voortrekkerkappie terug te bring. Marike Badenhorst ontwerp Poplap, ‘n reeks wat jou aan jou geliefkoosde lappop uit kinderdae herinner. Helder kleure en knopies detail laat hierdie reeks beslis uitstaan.

Om die pragtige klere af te rond het jy geskikte bykomstighede nodig. Ester Michau maak gebruik van varswaterpêrels en half-edelstene om unieke juwele te maak. Die kombinasie van pêrels met swart lint en kant vang beslis die oog.

Wees egter gewaarsku: as jy die tipe verbruiker is wat van generiese kleredrag hou, sal Mix and Match Studio waarskynlik nie by jou aanklank vind nie. Die klere is gemik op kreatiewe siele wat graag grense verskuif. As hierdie ‘n beskrywing van jou persoonlikheid is, maak ‘n draai by Mix and Match Studio (15e Laan 283, Rietfontein) of besoek hulle op Facebook.

Website | view posts